Heilig, heilig, heilig – geroep in God se teenwoordigheid
Jesaja 6 vertel van die oomblik van die profeet Jesaja se roeping. In die tempel beleef hy die volgende:
Jesaja 6:3
“Die serafs het mekaar telkens toegeroep: ‘Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.’”
Eerder as ’n onmiddellike opdrag word Jesaja eers diep bewus gemaak van God se heiligheid en almag. Hy ontdek dat God groter is as die tempel, en dat sy magtige teenwoordigheid oor die hele aarde weergalm. Hierdie ontmoeting bring Jesaja by ’n nuwe insig: God kan nie vasgevang word in ’n ruimte, ’n ritueel of ’n gebou nie.
Hy sou hierdie ervaring nodig hê, want sy roeping sou allesbehalwe maklik wees. God stuur hom na ’n volk wat nie wou hoor nie. Volgens vers 9 sou hulle “hoor maar niks verstaan nie” en “kyk maar niks sien nie”. Die mense na wie Jesaja gestuur is, het vasgevang geleef in godsdienstige formalisme, sosiale ongeregtigheid, politieke angs en morele agteruitgang.
Jesaja het self nie verstaan hoe sy boodskap hierdie werklikheid sou verander nie. Tog het hy getrou gebly aan sy roeping.
Ontmoetings met die Here bring ons dikwels nie by die duidelikheid, antwoorde en oplossings waarop ons gehoop het nie. Inteendeel, dit lei ons, soos by Jesaja, dieper in die uitdagings van ons tyd in. Dit maak ons bewus dat God se magtige teenwoordigheid groter is as ons godsdienstige ruimtes en groter as die probleme waarvoor ons staan.
En juis hierdie wete gee ons die moed om nie van moeilike omstandighede weg te vlug nie, maar om dit in gehoorsaamheid en vertroue te hanteer.
Hoe is die Here besig om jou te roep om moeilike mense, omstandighede en situasies te konfronteer – nie deur daarvan weg te vlug nie, maar deur daarin teenwoordig te wees?
Heilige God,
U wat hoog en verhewe op die troon sit,
die aarde is vol van u heerlikheid.
Soos Jesaja staan ons vandag voor U,
bewus van ons eie broosheid en onsekerheid.
Ons erken, Here, dat ons dikwels onwaardig, onbevoeg en bang voel vir wat voorlê.
Raak ons aan met u genade,
reinig ons harte en ons lippe,
en verwyder alles wat ons weerhou om u stem duidelik te hoor.
Wanneer U vra:
“Wie sal Ek stuur, en wie sal vir My gaan?”
gee ons die moed om te antwoord:
“Hier is ek, Here, stuur my.”
Roep ons om die uitdagings van ons tyd te ontmoet –
nie in eie krag nie, maar in vertroue op U.
Leer ons om getrou te wees, selfs wanneer die pad moeilik is
en die uitkoms onseker.
Mag ons lewens ’n getuienis wees
dat U steeds regeer,
dat U steeds roep,
en dat U mense gebruik wat bereid is om te luister en te gaan.
Amen.