Dagstuk | Maandag 26 Januarie 2026

Dagstuk | Saterdag 24 Januarie 2026
Dagstuk | Dinsdag 27 Januarie 2026

Ds. Ronell Bezuidenhout gaan vanaf 2 tot 4 Februarie die Week van Inspirasie hier in Stellenberg-gemeente aanbied. Sy was ‘n leraar in verskeie NG kerke en het haar oor die jare heen in meditasie verdiep en bestudeer ook graag die vroeë kerkgeskiedenis.  Sy behartig tans ‘n groot digitale bediening terwyl sy ook ‘n deeltydse leraarspos beklee.  Ter voorbereiding van die Week van Inspirasie skakel ons die week by haar dagstukke aan wat sy ook aanlyn beskikbaar stel.  Indien jy na haar volledige reeks oor die ABC van geloof wil luister, besoek gerus haar webwerf deur HIER te klik.

’N ABC VAN GELOOF: K — KAIROS

💡 Kairos is wanneer God se ewigheid jou horlosie stilhou.

📖 Prediker 3:1 – “Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd.”

Ons leef meestal in Chronos-tyd — die horlosie wat ons jaag en ons sukses aan spoed meet. Maar God werk in Kairos — die deurslaggewende, “ryp” oomblik. Kairos is daardie heilige vensters wanneer God in ons skedules inbreek om Sy plan sigbaar te maak. Terwyl Chronos dikwels angstig is oor spertye, is Kairos geduldig. God is nooit te laat nie; Hy wag bloot tot die oomblik volkome gereed is vir Sy doel. Vandag mag jy ophou veg teen die klok en begin rus in die ritme van Sy Gees. Sukses in die koninkryk is nie spoed nie, maar gehoorsaamheid in die “nou”.

🪜 Stap vir vandag: Kyk vandag na jou “onderbrekings” met nuwe oë. Is dit dalk ‘n goddelike afspraak? Besluit om vir ‘n oomblik jou horlosie te “vergeet” en teenwoordig te wees in die oomblik wat God voor jou neerlê.

🙏 Here, help my om U Kairos-tyd te vertrou en die ryp oomblikke van U genade raak te sien. Amen.

🎧 LUISTER: In vandag se oudio-boodskap kyk ek na die “volheid van tyd” in Galasiërs 4, die “vervulde tyd” in Markus 1 en wat ons by Maria kan leer oor Goddelike onderbrekings.