Dagstuk | Maandag 16 Februarie 2026

Dagstuk | Saterdag 14 Februarie 2026
Dagstuk | Dinsdag 17 Februarie 2026

TEMA: GOD IS DIE OUTEUR VAN SEISOENE
TEKS: Prediker 3:1–8

Die Skepper van die heelal het bepaal dat daar vier verskillende seisoene in ’n jaar is. Ons ken dit as somer, herfs, winter en lente. Elke seisoen het sy unieke klimaat en kenmerke – maar ook sy uitdagings. Net so gaan ons in ons lewens deur verskillende seisoene. Vir geen een van ons verloop hierdie ritme presies dieselfde nie. Die Here stap met elkeen ’n unieke pad, en elkeen van ons bevind ons op ons eie reis van verandering en oorgang.

My lewe het tans ’n nuwe seisoen binnegegaan met albei my seuns wat universiteit toe is. Dit is ’n nuwe fase – ’n tyd waarin jou kinders ouer word en stelselmatig uit die huis beweeg. So bring verskillende lewensgebeure ons telkens in nuwe seisoene in. Die lewe bestaan natuurlik uit baie meer as net vier seisoene.

In watter seisoen bevind jy jou tans?

Ek nooi jou om hierdie week saam te wandel rondom die tema:
’n Nuwe Hoofstuk: Wandel in God se Seisoene.

In Prediker 3:1–8 lees ons dat elke ding sy vaste tyd het. ’n Tyd om te lag en ’n tyd om te huil. ’n Tyd om te bou en ’n tyd om af te breek. ’n Tyd om vas te hou en ’n tyd om los te laat.

Seisoene is nie toevallig nie – God stel dit vas met ’n doel. Die seisoene van die lewe verander, maar God bly soewerein oor elke oorgang. Elke fase sluit vreugde én swaarkry in – en alles word deur Hom gebruik. Wanneer ons ons seisoen herken, bring dit wysheid en vrede. Dit help ons om nie teen die tyd te baklei nie, maar om daarin te rus.

Selfs wanneer ’n seisoen ongemaklik of pynlik is, kan ons vertrou dat God besig is om te vorm, te snoei en voor te berei.

Vra jouself:
Wat leer God my in hierdie seisoen?


GEBED

Hemelse Vader,
In hierdie seisoen van my lewe vra ek vir U leiding. Wanneer ek onseker voel, wees U my duidelikheid. Wanneer ek swak voel, wees U my krag. Orden my stappe en bring my hart in lyn met U wil. Help my om U volkome te vertrou, selfs wanneer ek nie die hele pad voor my kan sien nie. Laat my groei, vorm my en trek my nader aan U deur elke uitdaging en elke seën.

Lei my, Here, en laat my lewe U genade weerspieël.

Amen.