Dagstuk | Dinsdag 17 Februarie 2026

Dagstuk | Maandag 16 Februarie 2026
Dagstuk | Woensdag 18 Februarie 2026

TEMA: WANNEER GOD ’N NUWE DING DOEN
TEKS: Jesaja 43:18–19

In Jesaja 43:18–19 lees ons:

“Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink
en by die verlede stilstaan nie.
Kyk, Ek gaan iets nuuts doen,
dit staan op die punt om te gebeur,
julle kan dit al sien kom;
Ek maak in die woestyn ’n pad,
Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.”

Die woord nuut laat ’n mens sommer meer opgewonde voel as die woord tweedehands. Dink maar hoe jy voel wanneer jy ’n splinternuwe rok, ’n nuwe motor of ’n nuwe huis koop. Dit voel kraakvars en silwerskoon. Niemand voor jou het dit gebruik nie. Jy is die eerste eienaar.

Soms beleef ons dit ook in ons geestelike lewe – dat die Here iets nuuts doen. God begin iets nuuts wanneer die oue nie meer sy doel dien nie. Hy herstel nie altyd net die oue nie; soms skep Hy iets heeltemal nuuts. Soms roep Hy ons om ’n nuwe seisoen te betree en neem Hy ons na ’n nuwe plek.

Vir die volk Israel het die Here belowe dat Hy iets nuuts sou doen – Hy sou hulle lig uit hulle moeilike omstandighede en hulle na ’n nuwe toekoms lei. Selfs in die woestyn sou daar ’n pad wees. Selfs in droogte sou daar riviere vloei.

Dalk is daar ook ’n nuwe seisoen wat die Here in jou lewe beplan. Dit hoef nie altyd dramaties of ingrypend te wees nie. Dit kan iets eenvoudigs wees soos ’n nuwe denkwyse, ’n sagte hartsverandering, ’n dieper verlange na God se teenwoordigheid.

Ons gebed kan die woorde van Psalms 85:7 wees:
“Wil U nie weer die lewe vir ons nuut maak sodat u volk hulle vreugde in U kan vind nie?”

Hierdie gebed is meer as net ’n versoek om verlossing – dit is ’n hartsroep na heiligmaking, na vernuwing, na herlewing. Dit is ’n verlange dat God weer vars water oor ons droë plekke sal laat vloei.

Miskien is die vraag vandag:
Is ek bereid om die oue los te laat sodat God iets nuuts kan doen?


GEBED

U is die God van nuwe begin en nuwe skepping. U het in U Seun, Jesus Christus, met ons almal oor begin. Maar ook in my eie lewe het U al soveel kere nuut begin. U herstel nie net nie – U maak nuut. U doen ’n nuwe ding.

Leer my om U gehoorsaam te volg in hierdie nuwe seisoen van my lewe.
Amen.