Dagstuk | Donderdag 19 Februarie 2026

Dagstuk | Woensdag 18 Februarie 2026
Dagstuk | Vrydag 20 Februarie 2026

TEMA: SOMS IS DAAR DROË SEISOENE
TEKS: Psalm 13

In Psalms 13 hoor ons Dawid se rou en eerlike gebed:

“Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here?
Vir altyd?
Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk?

Luister tog en antwoord my, Here my God!
Gee my tog nuwe lewenskrag.”

Ons almal is diep bewus van die erge droogte wat ons land tans beleef. Soms ervaar ons ook ’n seisoen van droogte – nie in die natuur nie, maar in ons eie harte. Dan bid ons saam met Dawid: “Hoe lank, Here?”

Hierdie droë seisoene is swaar en verwarrende tye. Dit is wanneer die lewe nie sin maak nie en antwoorde uit die hemelse kwartiere skaars voel. Wanneer die las swaar druk en ons gemoed bedruk raak. Elke mens beleef sulke tye op ’n unieke manier, en dit speel in verskillende vorme in ons lewens uit.

Soms ervaar ons ’n geestelike droogte. Ons voel nie lus om te bid nie. Ons is nie bewus van God se nabyheid nie. Eredienste laat ons koud. Partykeer raak die twyfel selfs so sterk dat ons wonder of alles wat ons oor God, Jesus Christus en die Heilige Gees glo, werklik waar is.

Dan moet ons onthou: gevoelens is nie feite nie. Gedagtes is nie altyd waarheid nie. God se teenwoordigheid word nie gemeet aan hoe ons voel nie. Sy Gees werk dieper as ons emosies.

Droë seisoene is tydelik; God is ’n God van herstel. Geestelike droogte beteken nie geestelike dood nie. Selfs ná jare van verlies kan Hy weer lewe en hoop bring. Die dorste grond kan weer vrug dra.

In ’n tyd van droogte moet ons nie moed opgee nie. Ons bly God soek. Ons bly voor Sy aangesig neerbuig. Hy is daar. Hy weet. Hy vergeet nie. En op ’n dag – soms wanneer ons dit die minste verwag – breek die lig deur en val die eerste reëndruppels weer op die dorre aarde.


GEBED

Here, ek voel ver van U en my hart verlang na U.
Waar ek moeg is, vernuwe my.
Waar ek afgestomp is, maak my wakker.
Waar ek twyfel, maak my standvastig.

Selfs wanneer ek nie U teenwoordigheid kan voel nie, help my om te vertrou dat U naby is.
Gee my geduld in hierdie stil seisoen en geloof om aan te hou om U te soek.

Amen.