Dagstuk | Saterdag 21 Februarie 2026

Dagstuk | Vrydag 20 Februarie 2026
Dagstuk | Maandag 23 Februarie 2026

Joshua 1:9

TEKS: Joshua 1:9 – “Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.”

TEMA: Moed vir die nuwe seisoen

BOODSKAP:
Vir 40 jaar was Israel in die woestyn. Nou moet hulle oor die Jordaan trek na die beloofde land. Dit is die land van die Ammoniete, Moabiete, Filistyne en nog vele ander volke. Hulle moet ’n land oorneem wat op daardie stadium aan ander volke behoort. Dit vra ’n stuk moed.

Wat vir hulle voorlê, is oorlog – iets wat hulle nie ken nie. Daar was sewe volke in Kanaän, menslik gesproke almal veel sterker as Israel. Hulle sou nie toelaat dat hulle land sonder moeite van hulle af geneem word nie. Dit vra groot MOED.

Boonop het die verspieders teruggekom en gesê dat die inwoners oorkant die Jordaan so groot soos reuse is. Dit bly ’n donker prentjie wat geskets word.

Kom ons stel ons vir ’n oomblik in waarvoor Josua gestaan het:

  • Hy moes die taak wat Moses jare lank vervul het, oorneem. Die dood van Moses het ’n verskriklike leemte in die hele volk, en veral in die lewe van Josua, gelaat.

  • Die dertig dae van rou oor Moses was verby. Josua moes nou optree; hy was die nuwe leier.

  • Hy moes die volk nou in die beloofde land inneem.

Wat ’n geweldige taak het daar vir hom voorgelê! Met ’n moeilike volk moes hy onbekende gevare tegemoetgaan. Dit is die pad wat vir Josua voorlê. Teen hierdie agtergrond het die Here met Josua hierdie kort en kragtige gesprek gevoer, omdat Hy geweet het dat Josua baie bang was.

Daarom hoor ons die Here vir Josua sê:
Wees sterk, wees vasberade, moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.
Dit is asof ons Hom hoor sê: “Moenie bang wees nie. Kom, vat My hand, Ek stap saam met jou!”

Wat beloof die HERE aan Josua? Hy sê: “Ek sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie.” Letterlik: Ek sal jou nie laat inmekaar sak nie. Jy is swak, maar Ek laat jou nie aan jou swakheid oor nie. As volk mag hulle dalk die mindere van hulle vyande wees, maar God laat hulle nie aan hulle lot oor nie. Hy gaan saam met hulle.

Vir elkeen wat dit glo, bied hierdie vers ’n ryke troos. Die Here beloof dat tydens nuwe seisoene in hierdie lewe, met al sy gevare, ons nooit alleen sal wees nie. Ons Beskermer, wat nie slaap nie, sal tree vir tree saam met ons loop. Hierdie teks wil ook vir ons wat worstel met vrae soos: Waarheen nou, Here? Hoe nou, Here? Ek weet nie meer nie, Here. Waar kom my hulp vandaan? – troos bied. Dan, as ons stil word, hoor ons die pragtige woorde van vers 9:
“Moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.”


GEBED

Hemelse Vader,

Wanneer vrees in my hart opkom en die onbekende oorweldigend voel, herinner my aan U woorde: “Moenie bang wees nie.” Help my om te vertrou dat U met my is in elke oomblik — dat U my lei, beskerm en versterk.

Bring kalmte in my angstige gedagtes en vervang dit met U vrede. Gee my moed om dit wat voorlê te trotseer, geloof om te glo dat U alles ten goede laat meewerk, en vertroue om vorentoe te stap, selfs wanneer ek nie die hele pad kan sien nie.

Leer my om in U teenwoordigheid te rus, met die wete dat U liefde groter is as enige vrees wat ek mag dra.

Amen.