“Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.”
Die gedeelte net voor die teks gaan oor mense wat in die openbaar met hulle godsdienstigheid probeer beïndruk. Jesus noem hulle dan skynheiliges.
Wat is die heiligheid wat God van ons vra? Gedra ons onsself by tye skynheilig? Ek vermoed dat die meeste van ons nie so sal dink nie, omdat dit nie iets is wat ons sommer intensioneel sal doen nie. Ons sal darem nie opsetlik en in die openbaar ons eie geloof en godsdiens paradeer soos in die teks nie. Mense tel dit onmiddellik op en herken dit vir wat dit is: skyn of hoogheiligheid.
Maar dan is daar ’n ander kant aan skynheilig wat ons wel vang, omdat dit met ons oor opregtheid, eerlikheid en nederigheid praat. Ons bevind ons wel baie keer in die kerk tussen mense waar ons in die openbaar bid, sing en bely, en die woorde daarvan oor ons lippe gly sonder dat dit ons raak of verander. Ons skep ’n indruk na buite wat nie dieselfde intensiteit na binne slaan nie.
Vandag se teks praat met ons oor die ritme van fokus, eenvoud en opregtheid. Dit mag wees dat hierdie gedagte ons vandag onkant vang, omdat ons maklik in die gewoonte gekom het van ’n generiese geloof wat bekende godsdienstige frases in gesprekke en gebede herhaal. Gun jouself die ritme om God se heiligheid van binne te beleef, waar jy die vrymoedigheid neem om jou hart voor Hom uit te stort.
Here, U sê ek moet ingaan in my binnekamer en die deur agter my toemaak.
Maar U weet hoe moeilik dit vir my is om stil te word. My lewe is vol geraas – nie net van buite nie, maar van binne. Ek bid so maklik met woorde wat ek al ken. Ek sê dinge wat mooi klink, maar my hart bly halfpad agter.
Leer my om die deur regtig toe te maak – ook die deur van my trots, my selfregverdiging, my behoefte dat ander moet sien. Here, in die verborge plek waar niemand my kan bewonder of beoordeel nie, staan ek kaal voor U. U sien wat ek wegsteek: die onsekerheid, die jaloesie, die vrees om nie genoeg te wees nie.
Ek wil nie meer bid om gehoor te word nie, maar om U te ontmoet. Sluit my toe met U teenwoordigheid. Maak die binnekamer ’n plek van waarheid, waar ek nie hoef voor te gee nie. Waar ek kan huil sonder skaamte. Waar ek kan swyg sonder vrees.
Amen.