Dagstuk | Vrydag 27 Februarie 2026

Dagstuk | Donderdag 26 Februarie 2026
Dagstuk | Saterdag 28 Februarie 2026

Psalm 25:4-5
Maak my U wil bekend, Here, leer my U paaie. Laat U waarheid my lei en onderrig my daarin, want U is my God, my Redder.

Psalm 25 is ’n klaaggebed van Dawid wat in ’n baie unieke styl geskryf is. Elke sin begin met opeenvolgende letters van die alfabet. Dit is as ’t ware ’n A–Z-gebed in afhanklikheid en verwagting. Hierdie teks sluit baie nou aan by ons gedagte van gister en lei ons in die ritme van skuldbelydenis. Maar dan bring dit ons by ’n verrassende plek in ons hede uit.

Die waarheid wat skuldbelydenis vir ons oopbreek en wat ons moet onderskei, is iets groter as die waarheid wat ons self in gedagte het. Dit is ’n geheimenisvolle waarheid wat die Heilige Gees deur spesifieke lewenservaringe waarvoor ons staan, vir ons oopbreek. As ons met ander woorde bid: “Here, leer my U paaie,” moet ons bewus wees van die pad waarop ons tans loop en hoe die Here deur mense en omstandighede besig is om die waarheid opnuut vir ons oop te breek.

Hoe is die Here deur die lewenservaring waarvoor jy staan, besig om vir jou ’n waarheid oop te breek wat jy self nie sou gekies het nie?

Gebed
Here,
“Maak my U weë bekend, leer my U paaie. Lei my in U waarheid en leer my, want U is die God van my heil; op U wag ek die hele dag.”

Vader, ek kom na U met ’n oop hart. Wys my die paaie wat ek nie self kan sien nie. Ontbloot die patrone in my lewe wat my terughou. Wys my waar ek uit vrees leef, waar ek uit trots optree, waar ek my eie wil bo U s’n stel. Leer my nie net nuwe kennis nie, maar nuwe waarheid oor myself. Skyn met U lig in die verborge kamers van my hart.

As daar seer is wat ek vermy, bring genesing. As daar sonde is wat ek verskoon, bring oortuiging. As daar roeping is wat ek vrees, gee moed. Lei my in U waarheid — nie my eie interpretasie van my lewe nie, maar U perspektief. Vorm my karakter. Rig my begeertes. Maak my voete vas op U pad.

Ek wag op U, Here. Open nuwe waarhede oor my lewe, maar doen dit met genade.

Amen.