Dagstuk | Saterdag 7 Maart 2026

Dagstuk | Vrydag 6 Maart 2026
Maandag 9 Maart 2026

Hierdie week wandel ons verder met gedagtes uit Kolossense 4:2-6.

Romeine 1:20
“Van die skepping van die wêreld af kan ’n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat ’n mens nie met die oog kan sien nie.”

God is oral teenwoordig. Ons voel soms asof die Here ver van ons af is, asof God iewers daar bo is, buite ons bereik. Hierdie vers herinner ons daaraan dat God oral teenwoordig is en in alles rondom ons werksaam is, hoewel dit dinge is wat ons nie met die oog kan sien nie. Die koninkryk van God is naby, maar dit is maklik om God mis te kyk.

Romeine 1:20 vra van ons om bewustelik te leef, om op te let na die wêreld rondom ons en die onsigbare teenwoordigheid van God raak te sien.

Daar is ’n eenvoudige oefening wat ons hiermee help. Wanneer dit voel of die wêreld jou oorweldig en jy nie God rondom jou kan raaksien nie, word stil en identifiseer vyf dinge wat jy kan hoor, vyf wat jy kan sien en vyf dinge wat jy kan voel of waaraan jy kan vat. Wanneer jy bewus geword het van die wêreld rondom jou, vra dan vir jouself: Waar sien ek vir God raak in hierdie dinge?

Mag ons elkeen leer om God in ons en rondom ons raak te sien. Mag ons ook ander help om God in hulle lewens raak te sien.

Gebed

Here, ons bely dat ons so maklik onbewustelik deur die lewe gaan en U teenwoordigheid in ons en rondom ons miskyk. Help ons om bewus te word van U teenwoordigheid. Maak U koninkryk vir ons sigbaar, sodat ons ook U koninkryk sigbaar kan maak vir ander.

Amen.