WYSHEID – ’N LEWE IN DIE TEENWOORDIGHEID VAN GOD
Ons is geneig om oor ons geestelike lewe te praat wanneer ons Jesus se naam begin noem. Dan het ons geestelike lewe in ons kop iets te make met sonde en vergifnis en die ewige lewe, ensovoorts. Maar dit trek ’n bietjie die aandag weg van ons gewone, daaglikse lewe; van die besluite wat ons neem, die antwoorde wat ons gee en die dinge wat ons sê.
Dit is ’n verlies om Jesus net aan ons geestelike lewe te koppel! Daarom is Hy nie net Verlosser nie, maar ook ’n wysheidsleraar. Hierdie week wil ons ons dus met wysheid besig hou. Een van die mooi stukkies wysheid wat ons by Jesus leer, vind ons in:
Lukas 14:7–11 (2020-vertaling)
Toe Jesus opmerk hoe die genooides die ereplekke aan die tafel uitsoek, het Hy die volgende gelykenis vir hulle vertel:
“Wanneer jy deur iemand na ’n bruilofsfees uitgenooi word, moet jy nie op die ereplek gaan sit nie, ingeval iemand van groter aansien as jy deur hom uitgenooi is, en hy wat hom en jou uitgenooi het, dan vir jou kom sê: ‘Maak plek vir hierdie man.’ Dan sal jy met skaamte die verste plek moet inneem.
Nee, wanneer jy uitgenooi word, gaan na die verste plek, sodat die man wat jou uitgenooi het, kan kom en vir jou sê: ‘Vriend, skuif nader!’ Dan sal jy aansien kry by almal wat saam met jou vir ete aanleun.
Want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en wie homself verneder, sal verhoog word.”
As ek ’n gek van myself maak, soos wat ek al dikwels in my lewe gedoen het (glo my maar), dan beroof ek myself nie van die ewige lewe nie. Ek beroof myself net van die respek van die mense om my. En Jesus wil nie hê dat ek dit moet doen nie.
Jesus wil hê dat ek nederig moet wees, maar Hy wil nie hê dat ek in die skande kom en verneder word nie.
Sonde laat die beeld van God in ons vervaag. Skande laat dit ook gebeur. Ons is immers gemaak as die kroon van die skepping. En wanneer ons eervol optree, wanneer ons mense se respek verdien, word God se beeld in ons duideliker.
Daarom is dit ook vir die Here belangrik dat ons met wysheid optree.
Mag jy vandag vol wysheid wees!