Dagstuk | Woensdag 11 Maart 2026

Dagstuk | Dinsdag 10 Maart 2026
Dagstuk | Donderdag 12 Maart 2026

DIE BEGIN VAN WYSHEID (SPREUKE 9:10-12)

Ons het gister daaroor nagedink dat jou opmerksaamheid in die lewe en jou bereidheid om die goed wat skeefloop raak te sien, dit ter harte te neem en as vermaning te aanvaar, jou help om ’n wyser mens te word. Dit was deels hoe Salomo gefunksioneer het. Ek het gesê: “DEELS”, want dit is nie die volle storie nie. Daar is iets anders wat éérs moet gebeur; éérs van jou hart waar moet wees; éérs jou lewe moet kenmerk: Jy moet ontsag hê vir die Here. Dit lees ons in Spreuke 9:10-12.

Die begin van wysheid, sê Salomo hier,
is ontsag vir die Here,
en kennis van die Heilige is insig.

Toe Salomo enigiets van die Here kon vra, só vertel 1 Konings 3 vir ons, was sy gebed in vers 9:

“Gee dan aan u dienskneg ’n hart wat luister om as regter op te tree vir u volk,
om te kan onderskei tussen goed en kwaad;
want wie kan regspreek oor hierdie veeleisende volk van U?”

Dít is wat Salomo gevra het.

En die Here het só geantwoord (vers 10-12):

“Omdat jy hierdie versoek gerig het en nie vir jouself ’n lang lewe gevra het nie, nie vir jouself rykdom gevra het nie, en nie die lewens van jou vyande gevra het nie, maar vir jouself onderskeidingsvermoë gevra het om regsake aan te hoor – kyk, Ek voldoen aan jou versoek. Ja, Ek gee aan jou ’n wyse en verstandige hart.”

Ware wysheid het alles te make met hoe ons om ons rondkyk en daaroor nadink, maar dit begin nie by die rondkyk nie; dit begin by die opkyk. Dit begin by ’n hart wat na God luister; ’n hart wat ontsag het vir die Here; ’n hart wat met Hom rekening hou – met ander woorde, ware wysheid begin nie net met opkyk nie, dit hou ook nooit op met opkyk nie.

Hier is ’n voorbeeld: Netanyahu van Israel het vir homself gesê dat Israel net veilig kan wees as al die Palestyne uitgeroei is. Die wat nie doodgeskiet word nie, moet maar van die honger sterf. God het egter gesê:

As jou vyand honger is,
gee hom brood om te eet,
en as hy dors is,
gee hom water om te drink;
want jy stapel vurige kole
op sy kop,
en die Here sal jou beloon.

(Spreuke 25:21)

Jy hoef nie ’n profeet te wees om te weet dat dinge vir Netanyahu en vir Israel nie goed kan eindig nie. Hy is nie ’n Salomo met ’n hart wat na God luister nie.

Jy leer eers ware wysheid wanneer jy voor die Heilige God gekniel het en weet dat Hy die laaste sê het oor die uitkoms van enigiets wat jy aanpak.