Dagstuk | Donderdag 12 Maart 2026

Dagstuk | Woensdag 11 Maart 2026
Dagstuk | Vrydag 13 Maart 2026

DIE KRAG VAN DIE TONG

Goeie dag! Welkom terug by ons nadenke oor wysheid. Ons het tot dusver geleer dat wysheid daarop neerkom dat jy met die gevolge van jou doen en late rekening hou. Die goed wat ons doen, of nalaat om te doen, het gevolge. Maar Salomo, en Jesus se boetie Jakobus, waarsku dat daar ’n gevaarliker doen en late is as wat ons nét met ons hande kan regkry. Dit is die doen met ons tong. Die ding flap dikwels onbeheersd in ons mond rond – en so ’n onbeheerste tong het al tot die ondergang van baie mense gelei.

Glo dit maar: woorde is belangrik en het dikwels al tot groter moles aanleiding gegee as wat enige mens met sy hande kan regkry. En dit is op hierdie punt waar ons aansluit by gister se dagstukkie. Toe het ons nagedink oor ’n hart wat na Gód luister. Maar vandag moet ons ook dink oor ’n hart wat na ander mense luister. En die klem lê hier op die woordjie luister! Dit is egter iets waarmee die meeste van ons erg sukkel.

Daarom moet ons hoor wat Spreuke 18:13 sê:

Wie antwoord voordat hy luister –
sotheid is sy deel, en ook vernedering.

En Jakobus, wat ’n opmerklike voorliefde vir Salomo se wysheid het, sê dieselfde waarheid só:

Let op, my geliefde broers: elke mens moet flink wees om te luister, stadig om te praat, stadig om kwaad te word.

(Ons lees dit in Jakobus 1:19.)

Stadig om te praat beteken mos nie dat jy jou woorde staaaadig uitspreek nie. Dit beteken dat jy glad nie woorde uitspreek vóórdat jy klaar geluister het nie. As jou gespreksgenoot kan sien dat jy belangstellend luister en moeite doen om daaroor na te dink, voel sy gerespekteer. Sy gaan goed voel, al wys jou antwoord dat jy nie saamstem met wat sy gesê het nie.

Iemand het gesê: “Perk jou woorde in agter die tralies van jou tande.” As hulle sommer net uitstorm, byt hulle jou dalk ook raak.

Hierdie aanhaling oor jou woorde wat jou kan raakbyt, help ons verstaan dat om geduldig en goed te luister ook vir jou eie selfrespek belangrik is.

Luister gou weer na die Spreuke-teks, en let veral op die tweede deel:

Wie antwoord voordat hy luister –
sotheid is sy deel, en ook vernedering.

Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal lê vir ons uit dat ’n sot iemand is wat besonder dwaas, oningelig, dom of onbeholpe is, en wat min oordeel aan die dag lê. Jy wil tog nie hê dat iemand dit van jou moet dink nie! Só, luister maar eers goed na die Here en na jou gespreksgenoot voordat jy self begin praat.

Kom ons bid saam:

Here, U luister wanneer ons bid. Leer ons deur u Gees om te luister wanneer U en mense met ons praat. Amen.