Dagstuk | Vrydag 13 Maart 2026

Dagstuk | Donderdag 12 Maart 2026
Dagstuk | Saterdag 14 Maart 2026

WYSHEID EN DIE BEHEER VAN DIE TONG

Ons het onsself gister daaraan herinner dat dit belangrik is om goed te luister voordat ons begin praat. Vandag se wysheidsles gaan oor hoeveel woorde ons gebruik wanneer ons wel aan die praat raak. In Afrikaans het ons ’n idiomatiese uitdrukking: Jy moet jou woorde tel. Dit het niks met die letterlike tel van woorde te make nie. Dit beteken bloot: weeg elke woord, want as jy te veel praat en dinge sê wat kon gebly het, gaan dit teen jou tel.

Salomo en Jakobus waarsku ons ook daaroor.

Die Spreuke-teks (10:19) sê:

By ’n oorvloed woorde
bly oortredings nie uit nie;
maar wie sy lippe in bedwang hou,
is verstandig.

Ons het reeds gesien dat wysheid baie te doen het met ons woorde. Een van die tye wanneer ons dwaasheid aanskoulik na vore kom en ten toon gestel word, is wanneer ons ons mond oopmaak. Die probleem is dikwels dat wanneer ons in ’n geselskap is en daar ’n stilte neerdaal, ons op ons senuwees raak. Stiltes in ’n gesprek raak maklik onuithoudbaar. Dan begin ons babbel. Dít is dikwels ’n resep vir ’n ramp.

’n Verstandige mens perk sy woorde in agter die tralies van sy tande. ’n Dwaas laat hulle ontsnap. Moenie!

Jakobus sluit hierby aan deur te sê dat die beheer van ons tong ’n goeie aanduiding is van ons geestelike volwassenheid. Hy skryf in hoofstuk 3:1–3:

Moenie almal leermeesters wil wees nie, my broers, omdat julle weet dat ons strenger geoordeel sal word. Almal van ons struikel tog dikwels. As iemand nie met woorde struikel nie, is hy ’n volmaakte man, en ook daartoe in staat om sy hele liggaam in toom te hou. Ons sit stange in perde se bekke sodat hulle ons gehoorsaam, en daarmee stuur ons hulle hele liggaam.

Let op: as jy jou tong in beheer kan hou, is jy ’n volmaakte mens. As jy dit kan regkry, is jy ook in staat om jou hele liggaam in toom te hou, redeneer hy. Dink maar aan die stang in ’n perd se bek. As die stang op die regte plek is, kan jy die perd se hele lyf stuur. Of dink aan die roer van ’n skip. Die roer is relatief klein, maar die stuurman wat hom op die regte manier beheer, kan die hele skip met daardie kleinerige roer in die rigting stuur waarin hy wil.

Maar Jakobus is tog pessimisties oor ons kanse om die tong ten goede in te span. Daarom moet ons hom maar so min as moontlik gebruik, reken hy. Hy sê dan ook later dat die tong maklik ’n vuurhoutjie word wat ’n hele bos aan die brand steek.

Die punt is: jou kans om as ’n wyse mens gereken te word, word al hoe groter namate jy al hoe stiller raak.

Sterkte met jou woelige tong vandag!