


“Ons is baie dankbaar vir die ondersteuning wat die nuwe saamkuierbasaar geniet het,” sê Karen Visagie, organiseerder. “Besoekers het seker opgemerk dat die formaat van die basaar verander is. Ons het van koswaentjies gebruik gemaak, wat voordelig was omdat ons sodoende ’n groter verskeidenheid kos kon aanbied en ook minder afhanklik van vrywillige helpers was. Die eienaars van die kosstalletjies betaal ’n fooi aan die kerk om die staanplek te huur asook 10% van hulle totale verkope.”
“Die snuffelmark (thrift market) het baie besoekers na die saamkuier gelok. Heelwat mense besoek gereeld verskillende markte om vooraf gebruikte items, soos huisraad of klere, teen billike pryse op te spoor. Op dié manier is ook baie mense wat nie noodwendig lidmate van die gemeente is nie by die saamkuier betrek, en het ons sodoende ons leuse, oor grense heen, gestand gedoen. Die uitstallers in die snuffelmark het vir hulle tafelruimtes betaal en R26 000 is op dié wyse ingevorder.
Die gemeente se eie witolifanttafel het die rekordbedrag van R33 000 ingesamel. Ons opregte dank aan Juliana Smith en haar ongelooflike span helpers wat al die voorraad uitgepak en gemerk het. Ons is ook dankbaar teenoor lidmate wat bydraes vir die verkoping geskenk het – daarsonder sou die projek nie so winsgewind gewees het nie.
Die basaar se poedingtafel is deur gemeentelidmate bedryf. Die poedings wat deur lidmate gemaak en geskenk is, het die mooi bedrag van R21 000 ingesamel. “Ons is regtig dankbaar teenoor elke lidmaat wat tot die poedingtafel bygedra het – almal wat produkte geskenk het, of met die maak van poedings behulpsaam was. Ek wil ook graag in besonder vir Lynette Burger, konvenor van die basaarpoedings, en haar span, dankie sê. Ons beoog om die poedingtafel volgende jaar uit te brei,” sê Karen. “Ons wil graag tuisgebak soos koek, beskuit en ander lekkernye byvoeg.”
Die buitelug-ekspo langs Mountain Viewrylaan het visuele impak Gehad en nuuskieriges by die saamkuier laat inloer en die uitstallers by die ekspo was baie tevrede met die blootstelling wat hulle vanuit die omgewing ontvang het.
Die saamkuierbasaar is nie net ‘n fondsinsamelingsgeleentheid nie, maar ook ’n plek waar mense saamgebring word en Stellenberg-gemeente iets van ons gasvryheid en ons gees van verwelkoming met die hele gemeenskap kan deel. Danksy die positiewe terugvoer wat ontvang is, is die organiseerders, Karen Visagie en Sheree-Lee Gildenhuys reeds opgewonde om volgende jaar se saamkuier aan te pak en verder uit te brei.