Dagstuk | Dinsdag 17 Maart 2026

Dagstuk | Maandag 16 Maart 2026
Dagstuk | Woensdag 18 Maart 2026

Psalm 130

Uit die dieptes roep ek na U, Here.
2 Luister tog na my, Here;
hoor tog my hulpgeroep.
3 As U ons sondes in aanmerking sou neem, Here,
wie sou dan nog bestaan?
4 Maar by U ís daar vergifnis;
daarom word U steeds gedien.
5 Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom;
ek wag op die vervulling van sy woord.
6 Ek wag op die Here
meer as wat die wagte op die môre wag,
wagte op die môre.
7 Wag op die Here, Israel,
want by die Here is daar troue liefde;
by Hom is die verlossing seker.
8 Hy alleen sal Israel verlos
van al sy sondes.

2500 jaar gelede skryf die digter hierdie woorde neer en probeer om die noodkreet van mense se ervarings te verwoord. In Lydingstyd kom lê dieselfde vrae hier tussen ons: Uit die dieptes roep ons na U. Sien U ons raak? Hoor U ons stem? Is U daar?

In Lydingstyd is daar ’n lang tradisie waar kerke hierdie gebed lees om ons te herinner aan die donker dieptes waarmee baie onder ons daagliks worstel. Want ons vergeet soms van mekaar, vanweë roetines en vanselfsprekendhede.

Die digter herinner ons dat die dieptes enigeen binne ’n oomblik kan oorval. Dieptes waar alles net ophou om te bestaan. Waar niks meer saak maak nie en ons voel dat ons nie langer kan aangaan nie. Soms vind dit geleidelik plaas oor jare, tot op ’n dag wanneer ons nie meer kan nie en ons net nie meer omgee nie.

Ander kere vind dit binne ’n oogwink plaas met ’n slegte tyding of die ontdekking van ’n geheim. Dalk met iets wat ’n kind oorkom of aanvang. Met iemand se ontrouheid, met teleurstelling en met vernedering.

Soms is die oorsaak nie eens spesifiek nie, en ons kan nie ’n naam daarvoor gee nie. Dis bloot soms net die swaarheid van die lewe wat ons in ’n diepte indruk. Paul Tillich het ’n boek geskryf met die naam The Courage to Be, waar hy praat van die moed wat dit soms neem net om die volgende tree te neem. Om wakker te word, op te staan en aan te gaan.

Dis die vrae wat by ons kom lê in Lydingstyd. Die vraag wat Paulus teen die einde van sy lewe gevra het, was: “Wat sal ons dan van al hierdie dinge sê?” Ten minste ook dat selfs nie die donker dieptes ons ooit van God kan skei nie. Net om daaraan vas te hou, verg immers ook al moed.