Dagstuk | Woensdag 18 Maart 2026

Dagstuk | Dinsdag 17 Maart 2026

Esegiel 36:26
Ek sal julle ’n nuwe hart en ’n nuwe gees gee. Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ’n hart van vleis gee. 27 Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom.

Dit is moontlik om in Lydingstyd bewus te word van die hardheid van ons hart. Ons harde hart staan dikwels in die pad van ons groei. Ons hart is baie keer hard as gevolg van omstandighede en keuses. Die profeet Esegiel het iets hiervan verstaan. Die laaste hoofstukke van die boek Esegiel handel oor God as bron van lewe en hoop, wat Homself bekend maak as die Een wat ook nuwe lewe in die moedelose Israel in ballingskap kan blaas.

Hy skryf dan hierdie gedeelte oor hoe God ook ons harte kan verander. Soms maak ons ons hart hard bloot om te kan cope, en ander kere omdat ons nie lus is om emosioneel by ander betrokke te raak nie. Soms pla die kliphart ons, en soms glad nie.

Miskien is daar tog oomblikke waarin ons die belofte van ’n vleishart, soos Esegiel skryf, wil aangryp en God deur sy Gees vra om ons kliphart uit te kap—oomblikke van verlange na ’n sagte hart, omdat ons ervaar dat God ’n sagte hart vir ons het.