Dagstuk | Maandag 30 Maart 2026

Dagstuk | Saterdag 28 Maart 2026
Dagstuk | Dinsdag 31 Maart 2026

Vandag is Maandag, 30 Maart, en welkom by hierdie week se oordenkings, waar ons tydens hierdie Heilige Week op reis is na die kruis en die opstanding van Jesus, ons Verlosser. Hierdie week kyk ons elke dag na een van die sewe kruiswoorde van Jesus.

Kruiswoord 1: “Vader, vergeef hulle …”
Lukas 23:23–25, 33–34

Hulle het egter met ’n harde geskreeu aangehou om te eis dat Jesus gekruisig moes word, en met hulle geskreeu het hulle die oorhand gekry. Pilatus het toe besluit dat aan hulle eis voldoen moes word. Die man wat oor opstand en moord in die tronk was, het hy vrygelaat, soos hulle geëis het, maar vir Jesus het hy uitgelewer, soos hulle wou hê.

Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar saam met die misdadigers gekruisig, die een aan sy regterkant en die ander een aan sy linkerkant. Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”

Wat sê die bogenoemde gedeelte van God? Wat hoor jy oor jouself?

Soms is dit moeilik om te vergewe, omdat ons dink ons sê daarmee: “Toemaar, dit was nie so erg nie.” Maar vergifnis is iets anders. Dit sê: “Dit was en is steeds erg, maar ten spyte daarvan kan ek dit laat gaan en spreek ek jou vry.” Jy sien, jy is vergewe om ander te vergewe. Wat ’n wonderlike geskenk van God aan jou.

Gebed: Spreek, Heer, spreek. U kinders wil na U luister. Amen.