Vandag is Donderdag 2 April en welkom by hierdie week se oordenking, waar ons tydens hierdie Heilige Week op reis is na die kruis en opstanding van Jesus, ons Verlosser. Ons kyk hierdie week elke dag na een van die sewe kruiswoorde van Jesus.
Kruiswoord 4: “My God, my God, waarom het U My verlaat?”
Matteus 27:45–54
Van twaalfuur af het daar duisternis oor die hele land gekom, en dit het tot drie-uur geduur. Teen drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” Dit is: “My God, my God, waarom het U My verlaat?”
Party van dié wat daar gestaan het, het dit gehoor en gesê: “Hy roep vir Elia.”
Een van hulle hardloop toe gou, vat ’n spons en maak dit vol suur wyn en hou dit op ’n stok vir Hom om te drink. Maar die ander sê: “Wag, laat ons kyk of Elia Hom kom red.”
Jesus het weer hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas.
Op daardie oomblik het die voorhangsel van die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur. Die aarde het geskud, en die rotse het uitmekaar gebars. Grafte het oopgegaan, en baie gelowiges wat dood was, is opgewek, en hulle het uit hulle grafte uitgegaan. Ná Jesus se opstanding het hulle in die heilige stad gekom, waar hulle aan baie mense verskyn het.
Toe die offisier en die soldate wat saam met hom vir Jesus bewaak het, die aardbewing sien en die dinge wat gebeur het, het hulle baie bang geword en gesê: “Hierdie man was werklik die Seun van God.”
Toe Jesus aan die kruis die bogenoemde woorde van Psalm 22:2 aanhaal, was dit sy bedoeling, en almal wat Hom gehoor het, sou dit verstaan het. Hy het nie net na hierdie een vers verwys nie, maar na die hele psalm. Die tweede gedeelte van die psalm is ’n loflied oor God wat red. Jesus het dus in sy nood reeds geweet dat God Hom sou red. Dit is iets waaraan ons kan vashou in donker tye.
Gebed: Here, dankie dat U ons vashou en ons nooit verlaat nie. Amen.