Dagstuk | Vrydag 3 April 2026

Dagstuk | Donderdag 2 April 2026
Dagstuk | Saterdag 4 April 2026

Vandag is Vrydag 3 April en welkom by hierdie week se oordenking, waar ons tydens hierdie Heilige Week op reis is na die kruis en opstanding van Jesus, ons Verlosser. Ons kyk hierdie week elke dag na een van die sewe kruiswoorde van Jesus.

Kruiswoord 5: “Ek is dors”
Johannes 19:28–30

Hierna het Jesus, met die wete dat alles klaar volbring is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.”

Daar het ’n kan vol suur wyn gestaan. Die soldate het toe ’n spons vol suur wyn op ’n stok gesit en dit teen sy mond gehou. Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring!”

Toe het Hy sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas.

Hierdie kruiswoord wil eerstens beklemtoon dat Jesus ’n mens net soos ons was. Daarom verstaan Hy ons deur en deur. Daarom dra Hy die spykermerke nou nog met Hom saam. Jesus moes sterf, ja, om elke minus in jou lewe in ’n plus te verander. Dit was ’n donker Vrydag vir Jesus, maar ’n goeie Vrydag vir ons.

Met hierdie kruiswoord, “Ek is dors”, wil Jesus ons ook aan ons geestelike dors herinner. Daarom het Hy op aarde gesê: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!”

Gebed: Here, dankie dat ons van die lewende water kan drink. Amen.