Dagstuk | Dinsdag 7 April 2026

Dagstuk | Saterdag 4 April 2026

Johannes 20:2 en 4: “Sy hardloop toe en gaan na Simon Petrus en die ander dissipel vir wie Jesus baie lief was en sê vir hulle: Hulle het die Here uit die graf weggeneem…” Vers 4: “Die twee het toe saam begin hardloop, maar die ander dissipel het vinniger (na die graf) as Petrus gehardloop.”

As iemand hardloop, is daar gewoonlik ’n dringendheid. So was dit ook daardie Sondagoggend met Maria Magdalena, Petrus en Johannes. Hulle was die eerste getuies van die leë graf van Jesus, en daar was ’n dringendheid by hulle om dit met ander te gaan deel en om hulle te vergewis dat die graf werklik leeg is. Miskien was die dringendheid as gevolg van skok oor ’n moontlike bonatuurlike wonder, of ontsteltenis oor die moontlikheid van ’n misdaad of grafskending. Maar die boodskap moes uit! Dit moes gedeel word; daar moes oor hul waarneming en ervaring gepraat word!

Vir ’n dag of twee was hulle gebroke oor die feit dat hul hoop, hul verwagting, ná die bloedige Vrydag op Golgota tot niks gekom het en dood in ’n graf lê. En dan hierdie aardskuddende ontdekking: Hy is nie meer daar nie. Dit moet vertel word. Dit is ’n geval van dringendheid!

Vriende, ons weet dit al baie lank – vir die meeste van ons ons hele lewe lank. Ons gedenk die Here se opstanding en is dankbaar oor die leë graf. Maar laat dit ons met dieselfde dringendheid soos hierdie eerste getuies? Behalwe ons bekende “Die Heer het opgestaan”-groet op Paassondag, het ons nog die dringendheid om self daarvan te getuig? Om die opstandingsboodskap te deel, dit opgewonde vir ander te vertel omdat dit ons eie lewe indringend verander het?

Het ons en ons kerk se “hardloop” met die goeie nuus nie dalk maar ’n baie rustige, stadige stappie geword nie? Dit is die gebeurtenis, die goeie nuus wat die wêreld kan verander. Maar die getuienis daaroor moet uit – met dringendheid!

Gebed: Here, vergewe my as ek nie meer opgewonde en met dringendheid hardloop met die goeie nuus oor U opstanding nie. Amen.