Dagstuk | Maandag 6 April 2026

Dagstuk | Saterdag 4 April 2026
Dagstuk | Dinsdag 7 April 2026

Die afgelope naweek het die oorwinningskreet van miljoene volgelinge van Jesus weer wêreldwyd weergalm: “DIE HEER HET OPGESTAAN. JA, HY HET WAARLIK OPGESTAAN!” Deur die eeue was dit ook nie slegs ’n niksseggende groet nie, maar het dit die basis, die hoogtepunt van ons geloof, uitgespreek. Ons Christelike geloof, maar ook die Jesus-verhaal, is ondenkbaar sonder die opstandingsverhaal of -getuienis.

Probeer vir ’n oomblik dink: die graf van Jesus is nie leeg nie. Die oorskot van sy liggaam is nog daar. Die dood het Hom ingesluk, Hom oorwin, sy verhaal beëindig! So het Maria Magdalena ook waarskynlik gedink toe sy daardie Sondagmôre ná Jesus se kruisiging sy graf gaan besoek het. Met ’n swaar hart het sy by die graf aangekom om oor Jesus te rou, net om te ontdek die paar honderd kilogram klip is weggerol en Jesus se liggaam is nie meer daar nie. Die graf is leeg!

Hierdie ontdekking van Maria, en later van enkele ander dissipels, het die kern geword van wat ons glo oor Jesus, die hoogtepunt van die evangelie: DIE GRAF IS LEEG! Die dood kon Hom nie vashou nie. En jare daarna vier ons steeds Paasfees as oorwinningsfees, en kan daar op ons kerkmuur staan: “JESUS ONS VERLOSSER LEEF!”

Dit is ’n historiese gegewe. Dit het die fondament van ons geloof geword. Maar hoe raak dit my? Is dit nie maar net ’n afgehandelde gebeurtenis, ’n “event” wat plaasgevind het nie? Dan is dit juis wat die opstanding van Jesus so betekenisvol maak. Dit raak my verseker! Ek is ’n begunstigde van sy opstanding. Ook vir my het Hy die dood en graf oorwin en so die deur na die ewige lewe geopen. Daarom kan ek, soos Paulus in 1 Kor. 15:54, uitroep: “Die dood is vernietig. Die oorwinning is behaal. Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?”

Hierdie waarheid weergalm ook in die pragtige lied wat ons met Paasfees sing: “Hoor jy die paasfeeskokke? Die Heer het opgestaan! Hy het vir al ons sonde Hom aan die kruis laat slaan. In Hom is nuwe lewe, sy graf is leeg en oop. Hy gaan ons voor – verheerlik – en ons kan op Hom hoop!”

Kom ons vertroetel vandag hierdie waarheid!

Gebed: Here Jesus, dankie dat ons U kan aanbid as die Doodsoorwinnaar en dat U opstanding ook my waarborg vir lewe is – hier, maar ook vir ewig. Amen.