
Willma – met ’n dubbele l, nes haar oupa Willem na wie sy vernoem is – is ’n egte Vrystater in murg en been. Sy is een van vyf kinders en het op ’n plaas in die Winburg-distrik grootgeword. Haar hart bly steeds daar, veral omdat haar ouers op die merkwaardige ouderdom van 88 nog volstoom op die familieplaas boer.
As plaaskind was die koshuislewe deel van haar grootwordjare, en sy het matriek aan die Sekondêre Meisieskool Oranje voltooi. Daarna het sy haar studies aan die Universiteit van die Vrystaat voortgesit en ’n B.Sc.-graad in Dieetkunde behaal.
Hoewel sy sedert 2006 in die Kaap woon, bly Willma op haar gelukkigste tydens wintervakansies op die plaas – tussen die diere en saam met haar gesin en familie.
Die Luttig-gesin het Kaap toe verhuis toe haar man, Jan Dawid, se werk hom hierheen verplaas het. Sedertdien het hulle diep wortel geskiet in Stellenberg-gemeente. Beide hul seuns is ook in die gemeente gedoop. Willma en Jan Dawid is trotse ouers van drie kinders. Lara, die oudste, studeer tans B.Sc. Agric in Dierkunde aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy deel haar ma se groot liefde vir diere en droom om in embriologie en genetika te spesialiseer. Pieter, die middelkind, is ’n leerder aan Paul Roos Gimnasium en floreer in sport en tussen vriende. Lourens, die jongste, is in graad 8 by Durbanville Hoërskool en is volgens sy ma die kreatiewe lid van die gesin.
Met haar wetenskalike agtergrond het Willma se loopbaan lank in die wêreld van hospitale en teaters gelê. Vir 16 jaar het sy as mediese verteenwoordiger gewerk en sy het ook later navorsing saam met prof. Helmuth Reuter op die gebied van outo-immuunsiektes gedoen.
Haar loopbaan, wat baie tyd geverg het en gereelde reis ingesluit het, was later nie meer versoenbaar met die eise van ’n besige gesin met drie kinders nie. Gevolglik het sy besluit om haar loopbaan vir haar gesinlewe te verruil en het toe haar ouers begin help met die administasie van hulle boerdery.
Willma sê dat, aangesien twee van haar kinders nou nie meer voltyds in die huis is nie, haar hande weer losser is en sy die behoefte ontwikkel het om weer buitenshuis te werk. Sy is opgewonde om by die kerkkantoor werksaam te wees – al is dit heeltemal anders as haar vorige loopbaan. Sy hanteer die ontvangs by die kantoor en geniet dit om lidmate van die gemeente te leer ken en op dié manier in haar gemeenskap betrokke te wees.
| Willma, ons is bly jy is deel van die Stellenberg-familie – mag hierdie nuwe hoofstuk vir jou baie vreugde en seën inhou! Redaksie