
Akteur, sanger en liedjieskrywer, Philip Moolman het in die 90’s bekend geword vir sy romantiese hoofrolle in EGOLI, Die Prins Van Pretoria en Sonkring. Hy is ook mede-stigter van die gewilde Blou Hond teater-restaurant in Gauteng waar top plaaslike kunsternaars vir die afgelope 22 jaar weekliks optree.
Philip het in Parow grootgeword, maar het vir die afgelope 33 jaar in Johannesburg gewoon en gewerk. Sy onlangse, permanente terugkeer na die Kaap (waar sy kinderspore lê) het die nostalgiese titel en inhoud van die vertoning “Onthou Jy Nog” geïnspireer.
Hy beskryf die vertoning as volg: “Heerlike, vrolike, grappige, en inspirerende liedjies, stories en staaltjies uit die goeie ou dae, voor T.V. en selfone . . . die beste tye met die beste musiek.” In die vertoning bring hy hulde aan Sonja, Sias, Laurika, Lukas, Coenie, Carika, Anneli, Anton, Schuster, Kramer, Tolla en vele meer. Hy deel ook ‘n paar van sy eie komposisies uit daardie era.
Volgens Moolman is dit maklik om te bepaal of jy die vertoning moet bywoon, of nie. Vra net vir jouself die volgende vrae: Het jy al ooit ‘n “Bollie-boekie” gelees? Weet jy wie is Fanie en Melanie? Weet jy wat ’n kollekteer-oproep, fotoverhaal-boekies, langspeelplate en melkkoepons is? Weet jy wie is Glenda Kemp? Indien jy op dié vrae ja kan antwoord, dan behoort jy al die liedjies te ken en die vertoning te geniet.
Kyk gerus na een van sy videos deur die skakel te volg: