Ons tema vandag is: Snoeityd.
Tekslesing: Joh. 15:1-3; Heb. 12:11; Ef. 4:22-24.
Dis winter, en die plante en bome moet gaan rus. Van volgende maand af is dit ook groot snoeityd in die diep winter. Wingerdlote wat goed vrugte gedra het, word radikaal teruggesnoei. Dieselfde geld vir baie struike, soos rose. Hoewel dit vir ’n oningeligte persoon verkeerd mag voel, is dit die regte ding om te doen. Sonder snoeiwerk, soms selfs radikale snoeiwerk, verhard die plant. Snoei lei juis tot die uitgroei van nuwe lewe — nuwe jong takke, lote, blare, blomme en vrugte.
Ek sien dat appel- en perskebome deesdae nie eers meer as bome in hul natuurlike vorm gesnoei word nie, maar teen rankstellasies opgelei word. Sodoende word die vrugte meer aan die son blootgestel, wat selfs beter vrugte oplewer.
Jesus sê in Joh. 15 dat ons telkens reg gesnoei moet word om in die nuwe seisoene van ons lewens weer, en selfs meer, vrugte te kan dra. Snoeiwerk aan ons is noodsaaklik vir geestelike groei, al is dit dikwels pynlik.
Die wilde sondelote moet uitgesnoei word deur prosesse van bekering en nuwe begin, soms selfs deur prosesse van skade en skande. Die Heilige Gees oortuig ons van sonde en werk dan berou, bekering en nuwe lewe in ons.
Baie van ons tradisies moet ook van tyd tot tyd uitgesnoei word sodat daar plek gemaak kan word vir nuwe lewensmoontlikhede in nuwe tye en omstandighede.
God gebruik sy woorde van nuwe wysheid en teregwysing om ons terug te snoei en harde, dooie lote af te sny. Soms gebruik Hy tugtiging; soms beproewende omstandighede.
Deur sy Gees deel Hy ook die gawe van vermaning uit waarmee ons as gelowiges mekaar moet help snoei tot bekering en nuwe lewe. Dit is iets anders as raas, dreig of beledig. Vermaning as gawe is om die regte woorde op die regte tyd en op die regte manier te gebruik om mense te help tot nuwe lewe. Die geestelike gawe van vermaning help om die sondige en onbruikbare uit te sny en af te lê, en weer nuut en sterk te begin groei om uiteindelik selfs meer vrug te dra tot God se eer.
Gebed
Dankie, Here, dat U ons genadig is in Christus; dat U ons nie verwerp omdat ons sukkel met sonde en vrugtelose praktyke nie. Dankie dat U eerder, soos ’n goeie boer wat sy plante liefhet, met ons werk, al is dit soms snoeiwerk wat seermaak. Laat ons groei en geestelik sterker word om weer en weer, en selfs meer en meer, vrug te dra. Amen.
Dankie vir die week saam met jou as koninkryksboom. Dit was ’n voorreg.