Menswaardigheid en kunsmatige ingelligensie

Ds. Herselman is nie ’n nuwe leraar nie

| Deur: Dr. Dirk Brand

Kunsmatige intelligensie (KI) het oor die laaste aantal jare ontwikkel tot ‘n integrale deel van ons lewens, selfs sonder dat ons dit bewustelik gebruik.  Dink maar net aan die gebruik van sosiale media, om rigting te kry met Google maps of om iets aanlyn te koop.  Hierdie toepassings gebruik almal KI om dit vir ons as gebruikers maklik te maak, en ook om die eienaars daarvan te help om meer wins te maak.  Daar is geen twyfel dat KI baie voordele op verskillende terreine meebring nie, maar daar is ook risiko’s aan verbonde soos gebrekkige deursigtigheid, moontlike diskriminerende uitsette en ’n gebrek aan menslike oorsig. Die eksponensiële groei in die ontwikkeling en gebruik van groot taalmodelle (large language models) en KI-agente lei tot vrae oor die menslike toesig oor KI modelle en die delegasie van besluitneming aan KI-modelle. Toenemend word vrae gevra oor die impak van KI op menseregte, insluitende menswaardigheid.  Die EU AI Act (2024) vereis onder andere dat daar ’n assessering gedoen moet word oor die invloed van elke hoërisiko-KI-model op die fundamentele regte van individue.  Wanneer die vryheid binne ’n sosiale mediaplatform soos Facebook of Instagram misbruik word om mense se stem, foto of video te manipuleer of te vervals vir eie gewin of om daardie persoon te benadeel, het dit ‘n negatiewe uitwerking op onderlinge menseverhoudinge en menswaardigheid.  Die inherente risiko’s, etiese kwessies en misbruik van KI verg dus kritiese besinning oor hoe om te sorg dat etiese KI in diens van die mens, die norm kan wees.

‘n Kerneienskap van die Christelike geloof is die erkenning van menswaardigheid en die respek vir menseregte.  Jesus het self die voorbeeld gestel in hoe dit prakties uitgeleef behoort te word.  Luther en Calvyn het eeue later in hul publikasies oor die Christelike geloof die belangrikheid van menswaardigheid en menslike vryheid duidelik verkondig.  In 1948 is die Universal Declaration of Human Rights aanvaar, en dit is geanker in die uitgangspunt dat menswaardigheid en gelyke menseregte die basis vir vryheid, geregtigheid en vrede in die wêreld is.  In die era van KI is daar opnuut vrae oor die effek daarvan op menswaardigheid en die beskerming van menseregte.  Hoe moet ons dan vanuit ’n Christelike perspektief oor KI, menswaardigheid en menseregte dink en optree?

In die belangrike verklaring van Pous Leo XIV op 15 Mei 2026 Magnifica Humanitas – on Safeguarding the Human Person in Time of Artificial Intelligence beklemtoon hy onder andere die beskerming van menswaardigheid, bevordering van waarheid, waardigheid van werk, sosiale geregtigheid en vrede.  Hy argumenteer tereg dat menswaardigheid nie verdien of geregverdig moet word nie, maar dat dit inherent deel is van elke mens, geskape na die beeld van God. Vanuit ’n Christelike perspektief is menseregte dus die uitdrukking van inherente menswaardigheid, en verdien dit beskerming en bevordering, ook in die era van KI.  Die gebruik van KI is nie net ’n tegnologiese kwessie nie, maar het ’n duidelike impak op die individue wat dit gebruik, of op wie dit van toepassing is en ook op die breë gemeenskap.  Dit kan byvoorbeeld mense se lewens beinvloed wanneer daar om finansiering by ‘n bank aansoek gedoen word, ‘n besluit oor welsynstoelaes deur ‘n staatsdepartement geneem word, of ‘n mediese diagnose met KI-ondersteuning gedoen word.  Pous Leo XIV bespreek die hantering en impak van KI op die gemeenskap en argumenteer dan dat vir KI om menswaardigheid te respekteer en in diens van die mensdom gebruik te word, dit noodsaaklik is om verantwoordelikheid en verantwoordbaarheid in die hele waardeketting van KI duidelik te vestig.  Dit beteken dat daar duidelike beleids- en regsraamwerke moet wees wat die verantwoordelikhede van die ontwikkelaars, implementeerders en ook ons as gebruikers, deeglik omskryf.   Tegnologiese ontwikkeling en innovasie moet omarm word, maar vereis ook verantwoordelike besinning oor hoe die risiko’s en etiese kwessies hanteer moet word.  Christelike etiek is nie ‘n abstrakte konsep nie, maar moet praktiese gestalte kry, ook wanneer daar oor die ontwikkeling en gebruik van KI besin word.

 

Hierdie verklaring van die pous is een van die belangrikste beleidsdokumente oor etiese en verantwoordelike KI in die algemeen, en spesifiek ook vanuit ‘n geloofsperspektief.  ‘n Punt van kritiek is dat dit meer eksplisiet kon wees oor daardie KI-modelle wat so onaanvaarbaar is in die lig van die gevolge daarvan t.o.v. menseregte, dat dit verbied behoort te word.  Nietemin, hierdie verklaring stel dit duidelik dat daar ‘n etiese kode vir KI moet wees wat gebaseer is op die  gedeelde morele waardes van sosiale geregtigheid.  Dit impliseer dan dat besluitneming oor KI nie net in die hande van enkele individue en maatskappye gelaat kan word nie.  Prakties beteken dit dat beleidsraamwerke, wetgewing en internasionale verdrae inklusief ontwikkel moet word deur diverse rolspelers ten einde etiese KI in diens van die mensdom te ondersteun.

Die verklaring sluit af met ‘n beroep op gelowiges om met verantwoordelikheid deel te neem aan die tegnologiese ontwikkelinge van die KI-era.

In Christ, we are called to cooperate in the work of creation, rather than be disinterested observers of technological processes that limit our freedom and responsibility.”

In antwoord op die vraag oor hoe ons vanuit ‘n Christelike perspektief oor KI, menswaardigheid en die beskerming van menseregte moet dink, is dit duidelik dat ons nie apaties kan staan nie.  Ongeag of ons sagteware-ontwikkelaars, beleidmakers, entrepreneurs of gewone tegnologie gebruikers is, is dit nodig dat ons op ’n verantwoordelike wyse KI moet ontwikkel en gebruik.  Basiese KI geletterdheid moet naas syfer- en leesvaardigheid, aktief bevorder word.  KI-beleid, wetgewing en internasionale verdrae moet op etiese beginsels gebaseer word.  Dit moet voorts menswaardigheid erken en menseregte beskerm, ook nuwe digitale regte soos die reg op die beskerming van jou aanlyn profiel.  Die kerk se stem het dus duidelik ’n plek in die raadsale en forums waar oor KI-beleid en wetgewing besin word.

| Die bydrae is geskryf deur dr. Dirk Brand, ’n lidmaat van die gemeente, en senior lektor verbonde aan die Universiteit Stellenbosch.