Dagstuk | Maandag 15 Junie 2026

Dagstuk | Saterdag 13 Junie 2026
Dagstuk | Dinsdag 16 Junie 2026

https://youtu.be/q54_gYvKdxM

Dagsê!

Die teks wat ons hierdie week tot dieper nadenke gaan stem, is Psalm 139. Ek sal elke dag na ‘n vers of twee verwys, maar ek wil u aanmoedig om self die hele Psalm dag vir dag te lees en te oordink, want om ‘n enkele vers goed te verstaan, moet ons die hele Psalm in gedagte hou.

Vandag lees ons egter nie uit Psalm 139 nie, maar net ‘n vers uit Psalm 102. Dit is ons inleiding tot die reeks, en ek wil ‘n storie daaroor vertel.

Die sewende vers van Psalm 102 klink só: “Ek voel so verlate soos ’n pelikaan in ’n woestyn, soos ’n uil tussen murasies.”

Dit moes omtrent 40 jaar gelede gebeur het, maar ek onthou dit asof dit gister was.

Dit het so gebeur: Een oggend lui my deurklokkie, en toe ek die deur oopmaak, het daar ‘n gemeentelid gestaan. ‘n Vooraanstaande, mooi vrou; ‘n gewilde vrou, immer die middelpunt van ‘n groepie vrolike jong vroue. Maar daardie oggend het sy verwese gelyk, bedruk, bedremmeld, sonder sprankel.

Ek het haar na binne genooi, en sy was skaars in my studeerkamer toe die woorde oor haar lippe val: “Ek het vanoggend van myself in die Bybel gelees,” het sy gesê, “in Psalm 102:7, oor die pelikaan in die woestyn, die uil in die murasies. Dit is ek.”

Toe het sy oor haar intense, oorweldigende eensaamheid begin praat. Ek het aandagtig geluister, en later, toe sy stil word, het ek ’n Bybel vir haar van die rak gehaal en myne van die lessenaar geneem en by haar gaan sit.

Soos by ‘n feesmaal het ons saam-saam die een gedagte na die ander van Psalm 139 afgebyt, gekou en gesluk tot binne-in ons hart.

Byna ’n uur het ons so gesit, terwyl ‘n helder straal winterson soos vrede uit die hemel deur die venster geval en lig en helder oor ons geskyn het. In die ligstraal het die fyn stofdeeltjies, wat ons gewoonlik uit ons huis wil vee, tussen ons gedwarreldans.

Al hoe meer het haar oë hulle troebelheid verloor, en ‘n nuwe sprankeling het uit haar begin borrel.

En in my eie hart het ‘n vervullende, vredige vreugde gedaal. Natuurlik het ek Psalm 139 goed geken. Dit is immers hoekom ek hóm gekies het om haar te troos, maar onverwags, ongevraagd, wonderbaarlik, heerlik het hierdie Psalm sy genesende hand sorgsaam en seënend om my eie hart ook gevou.

Nadat ons saam gebid het, het ek die Bybel op my lessenaar teruggesit en haar gegroet. Toe sy ligvoet na haar motor stap, het ek in die ligglans van God se genade my dagtaak voortgesit.

Dit is hoekom ek die Psalm in die volgende paar dae saam met u wil lees. Want ek begeer dat hy ook vir die seerplekke in u hart ‘n goddelike salf sal wees.

Môre maak ons vir hom die deur oop en nooi hom om in ons te kom woon.

Ons slotgebed vir hierdie reeks is elke dag Lied 543:3:

Kom ons bid saam!

Heiland, laat my nooit vergeet
dat U alles van my weet;
al is niemand ook by my,
sal U, Here, by my bly.

Amen.