Goeiedag. Ek het gister belowe dat ons vandag sal begin delf in Psalm 139 om sy skatte wat soos diamante onder die ink op Bybelbladsye begrawe lê, op te diep sodat hulle in die helder lig van God se genade voor ons oë kan skitter.
Maar om waarlik hulle glans na waarde te kan skat, is daar ‘n waarheid wat ons eers oor die werklikheid van ons menswees moet snap. Die waarheid is: Menswees sluit noodwendig en altyd ‘n stukkie eensaamheid in – en dít is ‘n goeie ding want eensaamheid is ‘n soort pyn en pyn is meesal ‘n goeie ding, al is hy nie lekker nie.
Pyn sê immers vir jou dat daar iewers ‘n fout is wat jou dringende aandag verg. As jy ingedagte jou hand op die warm stoofplaat laat rus, hoef jy nie te wag tot jy rook sien en braaivleis ruik voor jy agterkom daar is fout nie. Die pyn help dat jy dadelik jou hand wegruk en ‘n woord sê wat die kinders nie mag hoor nie. As jy baie dors is, is dit jou lyf wat vir jou sê, ek en jy is aan die ontwater, dit is gevaarlik – gaan soek vir ons iets om te drink. As jy honger is, is dit jou lyf wat vir jou sê: Ek en jy het kos nodig, kry vir ons iets om te eet! As jy eensaam is, is dit jou siel wat vir jou sê, “ons het God nodig!”
Augustinus het al met ‘n uitspraak van Jakobus in gedagte gesê dat God ons heeltemal vir Homself wil hê, en dat ons hart onrustig in ons is, totdat hy rus vind in God.
As jy hierdie waarheid gesnap het, begin Psalm 139 glansryk skitter. God, sê die Psalm, ken ons deur en deur. Niemand kan so diep in ons hart inkyk as God nie. Met mense moet ons dikwels worstel om die regte woorde te vind wat uitdrukking gee aan iets wat ons probeer dink, God wéét en verstaan voor ek nog die woorde gevind het. Mense kan langs ons leef, God leef ook in ons. Mense kan aan ons vel raak, God raak van binne af aan my. Psalm 139 wil hê dat hierdie wete ‘n warm jas word wat ek kan aantrek om my teen die koue van die lewe knus en snoesig te omvou. Daar is Iemand wat my vir Homself wil hê, Iemand wat my liefhet terwyl Hy alles van my weet en alles van my verstaan. Eensaamheid is ‘n kamer in my siel waarin net God kan woon.
En mense dan? Waar pas hulle in? Is ons eensaamheid nie ‘n verlange na iemand van vlees en bloed nie? Ja ons het ook mense nodig wat ons kan liefhê, maar ons verwag teveel van hulle as ons dink hulle kan ons eensaamheid wegneem. Maar daaroor dink ons môre na.
Kom ons bid nou ons gebed van hierdie week:- Lied 543:3
Heiland, laat my nooit vergeet
dat U alles van my weet,
al is niemand ook by my,
sal U, Here, by my bly.