Goeiedag
Vandag sluit ons hierdie kort reeks oor Psalm 139 af. Ons het die afgelope week na die Psalm gekyk asof dit ’n buisie salf is wat ons helend oor die wond van eensaamheid in ons siel kan smeer. Die diepste waarheid oor ons menswees is immers dat ons ’n groter behoefte aan God het as wat ons meestal self besef. Ons besef dit nie altyd nie, omdat ons ons gedagtes nie daarop rig nie, omdat ons dit vergeet, en omdat ons onsself nie voortdurend daaraan herinner nie. Ons eensaamheid dwing ons egter om hierdie waarheid weer in herinnering te roep, en die beste manier om dit te onthou, is om dit hardop te bely.
Ons het daarom oor twee belydenisse gepraat: die geloofsbelydenis van God se teenwoordigheid en die skuldbelydenis oor die ontstellende gedagtes wat in ons kop rondmaal.
Ons moet onsself daaraan herinner dat God baie naby aan ons is — nader as ons klere, nader selfs as ons vel. Hy is binne-in ons, so naby dat Hy ons deur en deur ken.
Nou wil ek vandag ten slotte vra: Waarom sou God Hom soveel moeite met my getroos? Waarom sou Hy my so goed wou ken? Is Hy nie te besig met sy wêreld om ook nog tyd aan my af te staan nie? Hoe kry Hy dit reg om miljarde mense só te ken?
Die antwoord op hoe Hy dit regkry, is eenvoudig: Hy is so groot dat niks vir Hom onmoontlik is nie. Ons het geen idee hoe groot en wonderlik God werklik is nie. Hy is altyd meer en groter as wat ons in ons wildste drome kan voorstel. Ons kan dit maar net gelowig aanvaar: dat Hy elke mens só kan ken sonder om verward of oorweldig te raak.
Maar waarom? Waarom sou hierdie groot God Hom met mense bemoei? Waarom sou Hy Hom met my bemoei? Dit is die vraag met die mooiste en heerlikste antwoord: Hy bemoei Hom met my omdat Hy liefde is, omdat Hy my liefhet.
Omdat Hy ons liefhet, weet Hy dat ons gedagtes bepaal watter pad ons in die lewe gaan kies. Hy weet ook hoe eiewillig ons is en hoe graag ons ons eie pad wil loop. Hy weet verder dat dit ’n smartlike pad kan wees. Om die waarheid te sê: as ons self die pad kies, sal dit ’n smartlike pad wees. Soos Psalm 1 waarsku, is dit uiteindelik ’n doodlooppad. En Hy wil nie hê dat ons daarop moet beland nie. Hy wil ons vir ewig by Hom hou. Hy wil ons op die ewige weg lei.
Dit is waarom ons elke dag moet bid:
“Here, kyk tog na my. Sien tog die ontstellende dinge raak wat in my kop aangaan, en lei my om ook só met ander saam te leef dat ons mekaar se eensaamheid ligter maak, terwyl U besig is om dit weg te neem.”
Vrede op die pad vorentoe en seën vir u.
Slotgebed:
Heiland, laat my nooit vergeet
dat U alles van my weet,
al is niemand ook by my,
sal U, Here, by my bly.
(Lied 543:3)