Goeiedag
U sal onthou dat ons gister bietjie tyd afgestaan het aan twee belangrike tipe belydenisse wat ons in Psalm 139 vind. Ons het toe veral gefokus op die gelóófsbelydenis en hoe ‘n hoorbare gesprek met God oor wat Hy vir ons beteken, ons gevoelens van eensaamheid laat vervaag, of selfs laat verdwyn.
Vandag wil ek u aandag vra vir die ewe belangrike skúldbelydenis, want as ‘n mens se oë eers daarvoor oopgegaan het, sien jy dat dit die geel, die helder middelpunt van die Psalm 139-eier is.
Om die dop van hierdie eier af te kry, moet ons begin by ‘n woord in vers 23 wat ons dikwels lees sonder dat ons hom behoorlik raaksien. In die 2020 Vertaling lui die vers so: “Ondersoek my, o God, en ken my hart; toets my, en ken my ontstellende gedagtes.
Ontstellende gedagtes.
Die ou bekende, 1983 vertaling wat die meeste van ons nog in die huis het, gebruik in plaas van ontstellend, die woordjie onrus. Ek dink dat die vertaling, “ontstellende gedagtes”, méér in die kol is, presies in die kol is.
Die Dawid wat hier bid, het vóór hy die gebed geskryf het, ontstellende gedagtes gehad. Dít is wat hom op sy knieë voor God laat beland het.
Wat hom so van sy gedagtes ontstel het, is die intense volkome haat vir sy vyande. Hy kon homself nie help nie! Dit het hom gepla. Maar wat maak jy met sulke soort gedagtes wat nie wil ophou of weggaan nie? Ek is seker u ook het al daarmee geworstel. Ek het beslis. Daar is goed wat jy dink en voel wat jy nié wil dink of voel nie. Maar hulle skop verbete vas in die breinselle waar hulle woon. Jy wíl nie so ‘n mens wees nie, maar jy is!
Al oplossing is om met God daaroor te praat. Gaan Hy vir my kwaad wees? Wat gaan Hy van my dink as ek dit vir Hom vertel? En dan skielik onthou jy: Hy weet dit alreeds. Vóór ek kan sê:, daar is mense wat ek intens haat of watter ander nare ding jy dink, wéét God dit reeds.
As Dawid met hierdie ontsteltenis in Hom na God gaan, het hy dus nodig om homself met ‘n geloofsbelydenis-gebed daaraan te herinner dat God alwetend is hom beter ken as wat hyself kan regkry. Dan kan hy sy skuld vreesloos en skaamteloos bely – God gaan nie verbaas of geskok wees nie. Hy kan dit dus maar hardop vir God sê, soos vir ‘n vriend wat jy met jou hele hart vertrou. Sy geloofsbelydenis maak juis sy skuldbelydenis moontlik!
Daar is niks anders wat ‘n mens so eensaam laat voel as onwelkome gedagtes wat in jou kop maal en in jou hart nesskop nie; skandalige goed waarvan niemand mag weet nie.
Sê dan vir jouself, Gód weet! Bely dit dan hardop, sodat jyself dit kan hoor sê. Bely dit biddend: “Here, U wéét en verstaan”. As ons daardie bekommernisse op Hom werp, vertrek die ontsteltenis, en die eensaamheid uit ons brein en ons hart en die vrede van God kom woon in ons. Maar ons moet onsself voortdurende daaraan herinner.
Dan bly die belangrikste deel van hierdie gebed nog oor – en daaroor gesels ons môre.
Slotgebed elke dag:
Heiland, laat my nooit vergeet
dat U alles van my weet,
al is niemand ook by my,
sal U, Here, by my bly.
(Lied 543:3)