Dagstuk | Maandag 13 Julie 2026

Dagstuk | Saterdag 11 Julie 2026
Dagstuk | Dinsdag 14 Julie 2026

Goeiedag!

Ek glo dat God se talle beloftes in die Bybel, net soos vir my, ook vir jou van onskatbare waarde is. Dit inspireer, troos en bemoedig. In baie omstandighede van my lewe word dit vir my soos ‘n reddingstou, veral wanneer dit moeilik gaan.

Die belofte wat miskien die meeste uitstaan, en waaraan ons waarskynlik die vasste vashou, is dié van God se nabyheid – Sy met-ons-wees onder alle omstandighede. Hierdie belofte loop soos ‘n goue draad dwarsdeur die Bybel.

Dink vir ‘n oomblik wat dit al vir jou persoonlik beteken het in verskillende situasies en omstandighede van jou lewe. Dink hoe dit jou bemoedig het en hoe jy daaraan kon vashou om telkens weer jou kop op te lig en met hoop en sekerheid vorentoe te gaan.

Selfs in ons alledaagse lewe is “naby wees”, “nader kom” of “met jou wees” ‘n troosvolle ervaring. Wanneer iemand vir jou sê: “Ek is met jou” of “Ek is by jou”, voel jy veilig, geborge en geliefd.

Ek het al baie vertel hoe ek as klein seuntjie baie bang was om alleen in my kamer te slaap. Daar was net te veel dinge wat ek in my verbeelding gesien het wat my angstig gemaak het. Wanneer ek dan huil of roep, was my pa onmiddellik daar. Hy het my nie net getroos of gesê dat ek nie bang hoef te wees nie. Nee, hy het langs my kom lê. Ek kon hom teen my lyf voel en hoor hoe hy vir my sing. Hy was baie naby aan my in my bang-wees, en sy met-my-wees het al die skrikbeelde laat verdwyn totdat ek met vrede en geborgenheid rustig aan die slaap geraak het.

Hoeveel te meer bring dit nie troos en veiligheid wanneer my Hemelse Vader aan my belowe: “Ek is hier by jou, naby jou, om jou vas te hou, met jou te wees en jou in die storms van die lewe te beskerm.”

In die volgende paar dae wil ons met hierdie dagstukkies in ‘n voëlvlug deur die Bybel reis en ‘n paar gedeeltes besoek waar hierdie besondere belofte van God verwoord word.

Een van hierdie tekste vind ons in Deuteronomium 31:6. Hoor dit weer en hou opnuut daaraan vas. Dit is God se belofte, ook vir jou vandag:

“Hou moed en wees dapper! Moenie bang wees nie, moenie vir hulle skrik nie, want die Here jou God gaan saam met jou. Hy sal jou nie in die steek laat nie; Hy sal jou nie alleen laat nie.”

Gebed

Here, ek hou vandag opnuut vas aan hierdie ewige belofte van U. Dankie dat U my nooit alleen laat nie, maar my soos ‘n liefdevolle Vader vashou en altyd met my is. Amen.