Deur al die jare was die oujaarsdiens in die kerk vir my een van die hoogtepunte van die jaar. Wat dit so besonders gemaak het, is die geleentheid om ‘n bietjie terug te blaai na die gebeurtenisse van die afgelope jaar.
In baie gemeentes was dit die gebruik om die name te lees van die mense wat gedurende die jaar gesterf het. Maar dit was ook ‘n geleentheid om terug te dink aan die vreugdes, die seëninge en die hoogtepunte van die jaar. Veral was dit ‘n tyd om stil te staan by God se trou, Sy voorsiening en hoe Hy telkens opgedaag het in die verskillende situasies van my lewe. Dit is juis hierdie terugblaai na die hoofstukke van die verlede wat jou bemoedig vir die jaar wat voorlê; wat jou moed en hoop gee vir die onbekende wat met die aanbreek van die nuwe jaar wag.
Ons kan dit ook só stel: my terugblik op die verlede help my om met verwagting en geloof die nuwe bladsye van die toekoms om te slaan.
So was dit ook met Josua. Ek onthou hoe daar dikwels tydens oujaarsdienste uit Josua 1 gepreek is. Josua, die getroue medewerker van Moses, was besig om die leierskap by sy mentor oor te neem. Hy het op die drumpel van ‘n onbekende en onsekere toekoms gestaan, met ‘n hele volk wat na hom opgekyk het om hulle die beloofde land binne te lei.
Sy grootste behoefte in hierdie krisismoment, net voordat hy saam met die volk oor die Jordaan moes trek, was die versekering dat God met hom is – naby hom. Dit sou sy moed, sy krag en sy vertroue wees.
God gee vir hom daardie versekering deur hom eers te laat terugkyk. Luister hoe wonderlik lei God hierdie belofte van Sy teenwoordigheid in:
“Soos Ek by Moses was, sal Ek by jou wees. Ek sal jou nie in die steek laat en jou nie verlaat nie.” (Josua 1:5)
Die belofte waarop ons hierdie week fokus – dat God met ons is en naby ons bly – word dan nog verder beklemtoon in Josua 1:9:
“Wees sterk en dapper. Moenie paniekbevange wees nie en moenie bang wees nie, want die Here jou God is by jou oral waar jy gaan.”
Die belofte wat God aan Josua gegee het, is steeds ook Sy belofte aan ons – en spesifiek ook aan jou wat vandag hierdie dagstukkie lees of hoor.
Kyk vandag ‘n bietjie terug. Blaai deur die hoofstukke van jou eie lewe. Dink aan die tye toe God vir jou deurgekom het, toe Hy in jou krisismomente opgedaag het, toe jy Sy hand kon voel en Sy nabyheid kon beleef. Daardie herinneringe gee jou die moed om met geloof vorentoe te leef.
Moenie paniekbevange of bang wees nie, al lyk jou uitdaging hoe groot. Hou vas aan hierdie belofte:
“Die Here jou God is by jou, oral waar jy gaan.”
Gebed
Here, ek wil naby U wees. Ek hou vandag opnuut vas aan U belofte dat U nader aan my is as my eie skaduwee. Dankie dat U nog altyd met my was. Wees ook nou met my, Here my God, terwyl ek die volgende hoofstukke van my lewe betree. Amen.