Dagstuk | Woensdag 15 Julie 2026

Dagstuk | Dinsdag 14 Julie 2026
Dagstuk | Donderdag 16 Julie 2026

As jy vir enigiemand wat redelik gereeld die Bybel lees sou vra wat sy of haar gunstelingpsalm is, sal die antwoord waarskynlik wees: Psalm 23! Die mees geliefde Psalm van Dawid wat die meeste gelowiges uit die kop ken. Dis die gewilde gedeelte wat naasbestaandes die meeste versoek vir voorlesing tydens die herdenkingsdiens of by die oop graf van ‘n geliefde. Die Psalm wat my by groen velde van rus bring, by waters waar daar vrede is. Die troos en bemoediging, die vrede en rus lê nie in die eerste plek in Dawid se mooi woorde wat hier neergepen is nie, maar in die God waaroor die Psalm gaan. Die Herder wat saam met my reis en wat sorg dat ek niks kortkom nie! Wat my nie gewoon krag gee nie, maar nuwe krag – elke dag en vir elke situasie en uitdaging.

En as my Reisgenoot, wat my deurgaans belowe dat Hy met my is, baie naby aan my is (soos wat ons hierdie week opnuut hoor tydens ons dagstukkies), is Hy die Een wat my op die regte paaie lei; wat as Herder voor my op my lewenspad uitloop en my lei om reg te lewe, reg te besluit en reg te doen, sodat ek deur my regte keuses ook Hom kan eer.

As ons praat oor God en Sy belofte dat Hy naby my is, saam met my reis, dan staan vers 4 van hierdie Psalm uit as ‘n kernbevestiging! Kom ons hoor dit vandag weer opnuut, nie maar net as ‘n bekende vers wat ons al van kleintyd af kan opsê nie, maar as ‘n vashouvers vir alle omstandighede wat oor my pad mag kom tydens my reis deur die lewe. Maak dit vandag baie persoonlik en van toepassing op jouself. Doen dit deur miskien die “ek” en “my” te vervang met jou eie naam.

“Selfs al gaan ek deur donker dieptes, in ‘n dal van doodskaduwee … sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In U hande is ek veilig!”

Hoor hoe mooi word hierdie Godsbelofte onderstreep in die bekende en geliefde lied:

“Nader, my God, by U, nog nader by. U is om Christus wil Vader vir my. U liefde bly by my. Nader, my God, by U, nader my God by U, nog nader by!”

Gebed:

Here, ek sal die dood se donker dal nie vrees nie. Ek moet daardeur gaan, maar ek weet U is by my! Alleen en sonder U sal ek nooit wees nie, en in U hande sal ek altyd veilig bly. Amen.