Dagstuk | Donderdag 16 Julie 2026

Dagstuk | Woensdag 15 Julie 2026
Dagstuk | Vrydag 17 Julie 2026

 

Min, tot byna geen, mense het ooit beleef wat Jesaja beleef het nie. Hierdie getroue profeet het immers ‘n baie direkte en aangrypende ervaring gehad toe hy die lewende God gesien het. Daarvan lees ons in Jesaja 6. Kan ons ons indink wat sy gewaarwording moes wees toe hy die Almagtige God, hoog verhewe op ‘n troon, sien sit het terwyl serafs mekaar toegeroep het: “Heilig, heilig, heilig is die Here van die leërskare! Die hele aarde is vol van sy heerlikheid!” Kan enige mens ooit weer dieselfde wees ná so ‘n ervaring? En in sy verslaenheid hoor Jesaja hierdie Almagtige God direk praat en vra: “Wie sal Ek stuur?” Jesaja, vol van die heerlikheid van die oomblik, antwoord onmiddellik: “Hier is ek, stuur my!”

Dit was egter nie ‘n maklike pad en sending vir Jesaja nie. Ons lees op baie plekke hoe hy plat teen die grond was, moedeloos oor die mense na wie God hom gestuur het. Hulle, die volk van God, was ontrou, hardkoppig en opstandig. Maar deur al sy uitdagings kon Jesaja vashou aan die beloftes wat die God wat hom gestuur het, vir hom gegee het. Dit is dieselfde belofte van God waarby ons ook die afgelope paar dae stilgestaan het in ons daaglikse dagstukkies: die belofte van God se nabyheid en dat Hy, hierdie Almagtige God wat Jesaja eerstehands ervaar het, met hom is – oral en onder alle omstandighede. Dit is ook dieselfde belofte wat Jesaja aan God se neergeslaande mense moes oordra. Selfs in hulle uiters haglike situasie in ballingskap moes hy hulle herinner aan hierdie belofte wat geldig is vir hulle, maar ook vir God se mense van alle tye – natuurlik ook vir ons vandag.

Kom ons onderstreep en hoor vandag weer hierdie troosvolle belofte van ons Almagtige Vader. Kom ons hou daaraan vas, glo dit en omhels dit elke dag.

Jesaja 41:10: “Moenie bang wees nie, Ek (dieselfde God wat Homself aan Jesaja bekend gemaak het, die Almagtige) is by jou! Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas; met my eie hand red Ek jou!”

En dan ook in Jesaja 43:1–2: “Moenie bang wees nie, Ek verlos jou. Jy is Myne! As jy deur water moet gaan, is Ek by jou!”

Vriend, ek weet nie waar jy vandag is nie. Dalk voel dit ook of jy deur ‘n storm of ‘n verterende vuur gaan. Hoor die kernaspekte van God se nabyheid aan jou: “Moenie bang wees nie! Ek help jou! Ek is by jou. Jy is Myne. In my arms is jy veilig.”

Onthou die mooi Griekwa-psalm, soos gesing deur Randall Wicomb:

“Ek sit oppie Grootdyn en my siel kreen, dit smaak my ons Jirre los my wee alleen, ma dan sien ek, nee, hie neffens my sit God!”

Gebed: Here, my Almagtige God, ek gryp vandag weer hierdie belofte aan! Ek bevestig in geloof dat ek U s’n is, dat U my daagliks help en my deur die storms van die lewe lei. Amen.