Dagstuk | Vrydag 17 Julie 2026

Dagstuk | Donderdag 16 Julie 2026
Dagstuk | Saterdag 18 Julie 2026

Hoe wonderlik is dit om hierdie week te reis tussen die gedeeltes in die Bybel waar God se nabyheid en teenwoordigheid in ons lewens onderstreep word! In die tekste uit die Ou Testament kon ons telkens hoor: Hy, die Almagtige, Alwyse en Alomteenwoordige God, skuif langs ons in as getroue Reisgenoot. En hier, neffens my, troos Hy, beskerm Hy, help Hy, maar wys Hy my ook die pad wat ek moet volg!

In die Nuwe Testament sien ons hoe hierdie nabyheid van God ‘n wonderlike dimensie bykry. God kom nog selfs nader aan ons in Sy Seun wat in ons wêreld gebore word. In die persoon van Jesus ontdek ons nuwe dimensies van God se teenwoordigheid by ons. Dit is dieselfde Jesaja, van wie ons gister gepraat het, wat voorspel het: “Die maagd sal swanger word en ‘n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.” Dit beteken: God met ons! In lewende lywe, deur die doen en late van Sy Seun, kom wys God dat Hy met ons is! En as daar ooit afstand was, kom verwyder Hy dit deur die soenverdienste van Sy Seun aan die kruis.

Dieselfde Immanuel, die Seun van God, was die meeste van Sy tyd op aarde ook naby mense. Hy het met hulle gesit, geëet, hulle aangeraak, genees en vertroos. Hy het in Matteus 18 ook belowe dat waar twee of drie in Sy Naam bymekaar is, Hy self daar teenwoordig is. Soos wat ons ook wil glo dat Hy naby aan ons is, self as Immanuel teenwoordig is wanneer ons in die erediens of kleingroep bymekaar is. Dis dieselfde Here wat later vir Paulus in ‘n gesig bevestig het: “Moenie bang wees nie, hou aan met preek, moenie stilbly nie, want Ek is by jou!” (Handelinge 18:10–11.)

Naby die einde van Sy aardse lewe het Hy ook aan Sy dissipels beloftes gemaak oor Sy voorgesette nabyheid en by-hulle-wees. In Johannes 14 sê Hy: “Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie. Ek stuur vir julle ‘n Voorspraak, die Gees van die waarheid, om vir ewig by julle te wees … Hy bly by julle en sal in julle wees.”

En dan Sy eie, baie persoonlike belofte aan Sy volgelinge van alle tye, Matteus 28:20:

“Onthou, Ek is by julle, met julle, naby julle, tot die voleinding van die wêreld!”

Gebed: Dankie, Jesus, Immanuel, dat U my nooit los nie, maar altyd by my is.