Dagstuk | Saterdag 18 Julie 2026

Dagstuk | Vrydag 17 Julie 2026
Dagstuk | Maandag 20 Julie 2026

Daar is ‘n pragtige lied in ons Liedboek wat begin met ‘n baie relevante vraag: “Voel jy soms of die Here te ver is?” (Liedboek van die Kerk, nr. 518). Dit kom baie ooreen met die Griekwa-psalm van Randall Wicomb waarna ons vroeër die week verwys het: “Ek sit oppie Grootdyn en my siel kreen, dit smaak my ons Jirre los my wee alleen …”

En hoe goed ken ons nie sulke situasies en ervarings nie. “God voel so ver! Ek dink ek het vir God verloor. Hy is anderkant die plafon waarteen, so voel dit, ek vasbid. Soms voel ek so ver van God verwyder dat ek selfs aan Sy bestaan begin twyfel.” Iemand wat aan erge depressie gely het, het eenmaal vir my gesê dat sy elke dag voel of sy diep in ‘n donker gat afval – alleen – en dat God haar los om maar te val.

In al drie gevalle word die vraag of dilemma telkens beantwoord met ‘n versekering, die wonderlike waarheid en belofte waaroor ons hierdie week gesels het. In ons Liedboek-lied wat begin met die vraag: “Voel jy soms of die Here te ver is …”, kom die aanmoediging direk ná die twyfelvraag: “Jy moet glo dat die Here met jou saamloop, dat Sy Gees oral met jou sal gaan.”

In ons Griekwa-psalm, waar die digter op die duin sit, met sy siel wat kreun, en dit vir hom smaak of die Here hom weer alleen los, sien ons die ontknoping direk ná die sug: “… ma dan sien ek, nee, hie neffens my sit God!”

Vir ons depressielyer se “donkergat-ervaring” kon ek haar verseker dat God saam met haar in die donker gat is en dat sy nooit verder sal val as God se reddende, vertroostende hand nie.

As ons val, wegraak of verdwaal, bly God steeds “hier neffens my”. Ek kan en sal nooit Sy nabyheid en teenwoordigheid kan ontvlug nie. Anders gestel: Daar is geen kans dat ons van God af kan wegkom nie!

Hoor hoe mooi stel en bevestig Psalm 139:7–10 dit:

“Waarheen sou ek gaan om U Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om aan U teenwoordigheid te ontkom? Klim ek op na die hemel, U is daar; gaan lê ek in die doderyk, U is ook daar. Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, ook daar lei U hand my, hou U regterhand my vas. Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek, of die lig rondom my om in nag te verander, maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos dag, duisternis so goed soos lig.”

Gebed: Dankie, Here, dat U oral, maar oral, by my is. Dat ek selfs in my diepste donkerte nie van U nabyheid kan ontvlug nie. Amen.