Goeiedag.
Hierdie rondekopdier wat op sy agterpote loop, die een wat ons “mens” noem, is tog maar ‘n verwarde verskynsel. Dink maar net oor hoe ons goeie Skepper ons aanmekaar gesit het: liggaam en siel. God het bedoel dat dit ‘n eenvoudige, ewige kombinasie moet wees. As jy net ‘n liggaam het, is dit ‘n lyk. As jy net ‘n siel het, is dit ‘n wat? Dalk ‘n spook, of, om dit mooier te stel, ‘n gees. Maar God het nooit bedoel om geeste te skep of om die wêreld vol lyke te maak nie. God het mense gemaak, en mense is per definisie siel en liggaam. Ons moet hulle saam dink. Maar ons sukkel om dit reg te kry. Ons bodder aanmekaar om siel en liggaam in ons denke uitmekaar te haal. “Gaan jou siel eendag hemel toe?” vra ‘n vroom evangelis vir iemand. Jesus het gesterf om my siel te red, dink mense, sonder om hulle daaroor te verwonder dat Jesus met ‘n tasbare liggaam uit die graf opgestaan en van die aarde weggeneem is om langs God in die beheerkamer van die wêreld te gaan sit. Sy leë graf en lewende liggaam vertel ons die belangrikste waarheid oor ons verlossing. Ons siel hoort nie in die hemel nie; dit hoort in ons liggaam.
Dit is daarom nie vreemd dat Jesus ons leer om te bid vir ons daaglikse brood nie. Let op dat Hy ons nie leer om te bid vir ‘n gesonde geestelike lewe nie. Hy is meer geïnteresseerd in ons liggaam en die brood wat die liggaam energie moet gee om te leef. ‘n Gesonde geestelike lewe is in elk geval niks anders nie as om as mens, siel en liggaam saam, in ‘n voortdurende gespreksverhouding met God te leef.
Sommer vroeg in die geskiedenis van die kerk was daar Christene wat so negatief oor die liggaam, en sommer oor die hele materiële deel van die skepping, gedink het dat hulle selfs ontken het dat Jesus regtig ‘n liggaam gehad het. Hy het net ‘n skynliggaam gehad, het hulle verkondig. ‘n Mindere god, so het hulle gesê, het die materiële wêreld gemaak en ons siele in die tronk van liggame opgesluit. Verlossing is dat jou siel met jou dood uit hierdie tronk ontsnap.
Die Bybel ondersteun daardie soort denke hoegenaamd nie. Dit is dwaalleer, het die kerkvaders beslis gesê. Johannes het selfs in sy eerste brief geskryf dat sulke mense niks anders as antichriste is nie! Dit lees ons in 1 Johannes 4:1–6.
Die waarheid is dat ons verhouding met die Here altyd terselfdertyd geestelik en liggaamlik, m.a.w. menslik, is. Ons aan-‘n-broodjie-kouende kake is deel van ons intiemste omgang met die Here. Moet dus nie neersien op hierdie versoek om ons daaglikse brood nie. Immers, die heiligste handeling in die kerk het alles te make met brood en wyn. Ons noem dit die nagmaal.
Kom ons bid nou saam:
“Ons Vader wat in die hemele is,
laat u Naam geheilig word.
Laat u koninkryk kom.
Laat u wil geskied,
soos in die hemel, so ook op die aarde.
Gee ons vandag ons daaglikse brood.
En vergeef ons ons skulde
omdat ons ook hulle vergeef het
wat teenoor ons skuldig staan.
En bring ons nie in versoeking nie,
maar red ons van die Bose.
Want aan U behoort die koningskap,
die mag en die majesteit
tot in ewigheid!
Amen.”