Dagstuk | Woensdag 29 Julie 2026

Dagstuk | Maandag 28 Julie 2026
Dagstuk | Donderdag 30 Julie 2026

Goeiedag.

Die psigiater en skrywer M. Scott Peck het sy blitsverkoperboek met die titel The Road Less Traveled met ’n kort, eenvoudige sinnetjie begin: “Life is difficult.” Dit het dadelik al wat ’n leser is, se aandag getrek. Ek het later gewonder of die gewildheid van die boek nie dalk grootliks met daardie eerste kort sinnetjie te doen gehad het nie. ’n Kort sinnetjie of ’n enkele woord kan ’n wêreld vol betekenis in homself opsluit. Hoe dit ook al sy, daardie woorde bevat ’n diepe, onbetwisbare waarheid: Lewe is nie maklik nie.

Ons Vader in die hemel sal wel uit die mensdom se gebede agterkom dat M. Scott Peck die lewe reg opgesom het. Dit is nie soos God die lewe bedoel het nie, maar dit is soos ons die lewe gemaak het: moeilik, ingewikkeld, verwarrend. En óns het dit so gemaak. Die Good News Bible vertaal Prediker 7:29 só: “This is all that I have learnt: God made us plain and simple, but we have made ourselves very complicated.” Dit is dalk nie die beste vertaling van die Hebreeuse teks nie, maar méns, dit is vol in die kol!

So, wat moet ons bid in hierdie moeilike wêreld? Die woordjie wat die Bybel gebruik om God se volkome antwoord op ons vraag te gee, is die woordjie “koninkryk”. Ons moet bid dat God se koninkryk moet kom, dat sy wil moet geskied. Die koninkryk is daar waar God se wil hier op aarde volkome geskied. Want die deurmekaarspul in die wêreld en in ons lewens is nie die wil van God nie.

God wil Koning wees op die aarde sodat elke mens en dier, elke plant en gogga kan gedy, kan blom, sy of haar volle potensiaal kan bereik. Dit is die koninkryk van God. En God wil beslis nie wag totdat ons dood is voordat Hy die koninkryk laat kom nie. Met die koms van Jesus het die koninkryk op hierdie aarde begin kom. Met die kruis en die opstanding van Jesus is die komende koninkryk se wiele aan die rol gesit. Met die uitstorting van die Heilige Gees het die koninkryk al hoe meer ’n werklikheid begin word, en met die wederkoms van Christus sal die koninkryk volmaak hier wees.

Daar is niks goeds waarvoor ons kan vra, niks wonderliks waaroor ons kan droom, niks heerliks wat ons kan begeer wat nie reeds in hierdie een geskenkboksie, wat God se koninkryk genoem word, verpak is nie. Daarom moet die ganse kerk meer as een keer per dag hierdie bede bid! Ek dink Jesus sou dit die enigste bede kon maak, maar Hy het nie, so raai ek, want God hou daarvan dat ons met Hom gesels – Hy wil nie net ’n WhatsApp kry nie! Ons moet huis toe bel; ons moet met ons Vader praat.

Die Onse Vader, met hierdie Koninkryksgebed daarin, vra dus vir ons Vader wat in die hemel is: “Here, kyk na hoe moeilik dit met ons gaan. Dis tog nie soos U dit bedoel het nie. Help ons om nou reeds volgens u bedoeling in hierdie wêreld met mekaar, met die natuur en met U saam te lewe. Laat u wil geskied, o Koning, want u wil is altyd vir ons die beste.”

Kom ons bid nou saam:

“Ons Vader wat in die hemele is,
laat u Naam geheilig word.
Laat u koninkryk kom.
Laat u wil geskied,
soos in die hemel, so ook op die aarde.
Gee ons vandag ons daaglikse brood.
En vergeef ons ons skulde
omdat ons ook hulle vergeef het
wat teenoor ons skuldig staan.
En bring ons nie in versoeking nie,
maar red ons van die Bose.
Want aan U behoort die koningskap,
die mag en die majesteit
tot in ewigheid!
Amen.”