Dagstuk | Vrydag 31 Julie 2026

Dagstuk | Donderdag 30 Julie 2026
Dagstuk | Saterdag 1 Augustus 2026

Dagsê!

Ons het gister nagedink oor die wonder dat God ons as volledige mens gemaak het. Dat ons nie ‘n liggaam het en ‘n siel het nie – ons is liggaam en siel. Dit is soos die brood en wyn in die nagmaal. Dit is gewone brood en wyn, maar dit is terselfdertyd die liggaam en bloed van Christus, en dit is terselfdertyd die heiligste geestelike voedsel. Ons kan liggaam en siel nie van mekaar skei sonder om die mens dood te maak nie; ons kan brood en wyn in die nagmaal nie van Jesus se vlees en bloed skei sonder om die heiligheid daarvan te skend nie; en vandag wil ek sê dat ons onsself nie van die mense om ons kan losmaak sonder om ons menswees in te boet nie!

Let daarom mooi op die woordjie “ons”. Dit kan dalk, terwyl ons hierdie gebed bid, ongemerk oor ons tong gly en by ons mond uitglip. Só ongemerk dat ons brein nie eens agterkom dat ons dit gebruik het nie. Dít sal ‘n groot fout wees. Want dink so daaroor: Die woordjie “ons” in die Onse Vader-gebed is een van die heel belangrikstes. Dit word sewe maal herhaal. Die “U”, waarmee ons na God verwys, kom net drie keer voor!

Ons kan onsself voor die aangesig van God nie van ons medemense losmaak nie.

Daarom het Jesus nie vir ons ‘n klompie reëls kom gee oor hoe om meer beroemd of suksesvol te wees nie. Hy het ons kom herinner daaraan dat ons ons naaste ‘n liefde skuld wat net so groot is as die liefde wat ons van nature vir onsself het. Maar, ai tog, is ons traag om hierdie skuld te betaal! Betaal moet ons egter betaal! Paulus reken selfs in Romeine 13 dat dit ‘n skuld is wat ons in elk geval nooit afbetaal sal kry nie. Daarmee bedoel hy nie dat ons moet moed opgee en die betalery maar los nie. Hy bedoel gewoonweg om ons tot groter ywer aan te moedig – hy wil hê dat ons nooit moet ophou om lief te hê nie.

Dit is hoekom ons in hierdie gebed, waar die ons so ‘n groot rol speel, moet bid dat ons skuld vergewe word. Ons het hierdie vergifnis so nodig soos die brood waarvoor ons in die vorige bede gevra het. Ons – dit is nou ek wat nie my liefdeskuld teenoor my naaste betaal nie, en my naaste wat nie sy liefdeskuld teenoor my betaal nie – het dus nie net brood nodig om te kan leef nie; ons het ook vergifnis broodnodig: God se vergifnis én mekaar se vergifnis.

My foon waarsku my van tyd tot tyd dat daar te veel toepassings (apps) op hom is wat ek nooit gebruik nie. Hulle vreet krag, al doen hulle niks. Die foon se battery sal langer hou as ek van hierdie parasiete ontslae raak, verduidelik my kunsmatig intelligente foon vir my. Wanneer die foon my so vermaan, dink ek altyd: Dit is soos ons wrokkighede en bitterhede wat ons teen ander koester. Hulle steel stilweg die lewenskrag wat ons so nodig het; hulle tap ons lewensbattery leeg.

Vergewe dus ander mense nou dadelik en kry dit uit jou lyf! Dan het jy sommer ook meer energie vir menswees. En kom ons betaal dan ons liefdeskuld – ons mag mos tog nie in die rooi bly leef nie.

Kom ons bid nou saam:

“Ons Vader wat in die hemele is,
laat u Naam geheilig word.
Laat u koninkryk kom.
Laat u wil geskied,
soos in die hemel, so ook op die aarde.
Gee ons vandag ons daaglikse brood.
En vergeef ons ons skulde
omdat ons ook hulle vergeef het
wat teenoor ons skuldig staan.
En bring ons nie in versoeking nie,
maar red ons van die Bose.
Want aan U behoort die koningskap,
die mag en die majesteit
tot in ewigheid!
Amen.”