Dagstuk | Saterdag 1 Augustus 2026

Dagstuk | Vrydag 31 Julie 2026
Dagstuk | Maandag 3 Augustus 2026

Dagsê!

Daar is mense wat oordadig bewus is van die duiwel se bestaan en die booshede wat hy begaan; hulle is nie verkeerd om te glo dat daar rêrig so iemand is nie – ’n persoonlike, bomenslike kwaad wat hom op ’n negatiewe manier met God se skepping inmeng. Ek dink ons wêreld vol TV’s wat die verskrikkinge van al die oorloë wat aan die gang is, voor ons oë laat gebeur, lewer oortuigende getuienis van Satan se bestaan. Dink byvoorbeeld aan die onmenslike optrede van Israel wat ‘n hele nasie Palestyne wil uitroei. Ek gebruik die woord onmenslik omdat die wreedheid teenoor die kindertjies daar nie in die hart van ‘n mens sy oorsprong het nie; dit het uitgebroei in die gedagtes van ‘n onmens, die duiwel. Daarom moet ons elke dag, as ons vir die wêreld bid, ons gebed afsluit met die bede: Verlos ons van die Bose! En dit is nie om Israel te verontskuldig nie; hulle moet verantwoordelikheid neem daarvoor dat hulle hul hart aan die duiwel verkoop het.

Jesus wil dus in hierdie verlossende gebed hê dat ons met God oor die Bose, die duiwel, die Satan, moet praat. Net God kan ons van hom verlos. Dit is wat Paulus ook sê. As hy in Efesiërs oor die bose geeste in die lug skryf, beveel hy aan dat ons ons sterkte om teen hulle staande te bly, ons standvastigheid teen hulle, in God se geweldige krag gaan soek. Jesus sê in Lukas 10:18 dat Hy die Satan soos ‘n weerligstraal uit die hemel sien val het. Let wel, soos ‘n weerligstraal. Om met die spoed van ‘n weerligstraal te val, moet jy gegooi wees deur iemand wat rêrig kan gooi! En die wapenrusting wat ons teen die bose geeste moet aantrek, is om ons te beskerm, nie om teen die Satan te baklei nie.

Ons moet dus van die duiwel weet. Ons kan teen hom staande bly. En ons moet bid om van hom ontslae te raak, want hy is lastig soos ‘n muskiet wat die heel tyd om jou ore zoem as jy wil slaap. Maar om van hom ontslae te raak, is heel laaste op die lys van dinge wat ons nodig het.

Is u verbaas dat ek so iets kan sê? Kyk maar net weer na die gebed wat Jesus vir ons leer. Hy begin by die heel belangrikste bedes: God se Naam, God se koninkryk en wil, ons brood en ons vergifnis. En dan is dit op die ou end asof die Here wil hê dat ons vir God sê: “O ja, en amper vergeet ek, red ons tog ook van die Bose …”

Ons stukkie roosterbrood is ‘n groter prioriteit as die duiwel.

Hierdie gebed sit, as gebed, reeds die duiwel op sy plek. Die duiwel is ‘n probleem, maar hy is die laaste op die lys van jou bekommernisse.

Die Bose is ’n werklikheid in ons lewe, maar hy’s soos ’n krokodil waarvan al die tande getrek is. Maar al kan hy nie meer byt nie, bly hy grillerig. Moenie met hom speel nie.

Kom ons bid nou saam:

“Ons Vader wat in die hemele is,
laat u Naam geheilig word.
Laat u koninkryk kom.
Laat u wil geskied,
soos in die hemel, so ook op die aarde.
Gee ons vandag ons daaglikse brood.
En vergeef ons ons skulde
omdat ons ook hulle vergeef het
wat teenoor ons skuldig staan.
En bring ons nie in versoeking nie,
maar red ons van die Bose.
Want aan U behoort die
koninkryk en die krag
en die heerlikheid
tot in ewigheid.
Amen.”