
Daarna het Petrus na Jesus toe gekom en gevra: “Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?”
Jesus antwoord hom: “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie, maar selfs sewentig maal sewe keer.”
Matteus skryf oor hierdie oomblik tussen Petrus en Jesus, wanneer Petrus vir Jesus vra: “Hoeveel keer moet ek my broer – en ons kan byvoeg: suster – vergewe as hy of sy iets verkeerds teen my doen?” Ek vermoed dis op hierdie punt waar ons almal ’n bietjie nader skuif om te hoor wat Jesus gaan sê. Wat is die antwoord op sy vraag? Hoeveel keer is dan nou genoeg? Waar kan ons die streep trek?
Alhoewel die teks dalk ver verwyderd staan van ons eie lewe, vermoed ek baie van ons was al in situasies waarin ons ook moes besluit of ons gaan vergewe of nie. Of waar ons vergifnis moes vra of nie. Ons sal vir mekaar stories kan vertel waar ons ook al hierdie vraag vir onsself moes antwoord. Maar as ons baie eerlik met mekaar sal wees, sal ons erken dat vergifnis nie so maklik is nie. Inteendeel, dit voel soms onbereikbaar.
So, wat kan ’n mens oor vergifnis sê? Ek wil jou uitnooi om die volgende paar dae saam te dink oor hierdie vraag. ’n Goeie beginpunt sal miskien wees om baie sensitief te wees wanneer ons iets oor vergifnis wil sê, en onsself en ander met genoeg deernis te behandel. Want ons almal is op verskillende plekke in ons lewe, en ons weet dat verhoudings geweldig kompleks kan wees, wat ’n sekere verantwoordelikheid vra as ons ’n opinie oor vergifnis wil gee.
Ek dink ook dat as ons in die kerk wil praat oor vergifnis, ons sensitief moet wees vir die feit dat die kerk die einste plek is waar baie mense al seergekry het. So, ek wil jou graag uitnooi om vir die volgende paar dae saam te dink oor vergifnis en, terwyl ons dit doen, vir jouself en die mense in jou lewe sag vas te hou.
Ek lees graag vir ons ’n gebed van die Ierse digter en teoloog Pádraig Ó Tuama:
Jesus, Your life set before us the patterns of the Kingdom – ways of being and doing which bring freedom and flourishing.
May we find the clarity and courage to see and own those habits of thought, word, and action which bind us to unhelpful pathways and keep us trapped in barren places;
then, help us see and learn how we might instead make and inhabit the patterns which bring life. Amen.