Dagstuk | Saterdag 8 Augustus 2026

Dagstuk | Vrydag 7 Augustus 2026
Dagstuk | Maandag 10 Augustus 2026

Omgee is nuut elke môre

Lees: Klaagliedere 3:18–23

“Ek het gedink dit is klaar met my en met my hoop op die Here. Maar dit sal ek ter harte neem en daarom bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie. Dit is elke môre nuut. Groot is u trou!”

Sommige Bybelgedeeltes is só diep en eg dat hulle min verduideliking nodig het. Hierdie woorde uit Klaagliedere is een daarvan. Dit is genoeg om dit stadig te lees, weer te lees en toe te laat dat dit in ons eie lewe weerklink.

Ons ken almal dae waarop bekommernis en verwondheid ons uitput. Saans gaan slaap ons met swaar harte, en die volgende oggend wag dieselfde uitdagings weer op ons. Die druk hou aan totdat ons moedeloos begin dink: Nou is dit klaar met my.

Die skrywer van Klaagliedere ontken nie hierdie werklikheid nie. Hy probeer nie sy pyn wegredeneer of wegsteek nie. Hy kla dit eerlik voor God. Dit is immers wat die naam Klaagliedere suggereer: om jou nood in geloof voor die Here uit te stort.

Ons is dikwels geneig om ons seer te internaliseer en dit alleen te probeer dra. Die Skrif nooi ons egter om daarmee na God toe te gaan. Ons voorgeslagte het soggens en saans gekniel om te bid. Abraham, Moses, Aäron, Josua, Dawid en Salomo het hulle selfs met hulle gesigte teen die grond voor die Here neergewerp. Hulle het geweet dat ware hoop nie daarin lê om alles self uit te werk nie, maar om hulle toevlug by God te soek.

Die omstandighede verander nie altyd oornag nie. Dikwels breek die nuwe dag aan met dieselfde uitdagings as die vorige een. Wat wél nuut is, is God se ontferming. Sy trou gee ons die krag om weer op te staan, weer te vertrou en weer te volhard.

Hierdie hoop is nie goedkoop nie. Dit word dikwels juis in swaarkry gevorm – met ons gesigte teen die grond. Maar dit is ‘n hoop wat nie teleurstel nie, omdat dit rus in die God wie se liefde elke môre nuut is.

Gebed

Here, wanneer ons moed ons begewe en dit voel asof ons hoop besig is om te verdwyn, kom ons vandag eerlik na U toe. Ons bring ons bekommernisse, ons verwondheid en ons vrese na U, want U nooi ons om ons toevlug by U te soek.

Dankie dat ons niks vir U hoef weg te steek nie. Ons mag ons hart voor U uitstort, omdat u liefde nooit ophou nie en u ontferming elke môre nuut is.

Gee ons die moed om nie op ons eie krag staat te maak nie, maar om elke nuwe dag uit u hand te ontvang. Wanneer die pad swaar bly, herinner ons daaraan dat u trou groter is as ons onsekerheid en dat u genade altyd voor ons uitgaan.

Laat die hoop wat U in ons wek, ons dra deur elke uitdaging, totdat ons met vreugde kan getuig: “Groot is u trou!”

Amen.