Lukas 6:35–36
35 Nee, sonder om iets terug te verwag, moet julle julle vyande liefhê en goed doen en uitleen. Dan sal daar vir julle ’n groot beloning wees: julle sal kinders van die Allerhoogste wees, omdat Hy self goed is vir die ondankbares en slegtes. 36 Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is.
Ons wêreld werk dikwels volgens die beginsel van “iets vir iets.”
Ek help jou, en jy help my. Ek gee vir jou, en jy gee vir my.
Maar Jesus wys ons op ’n ander manier van leef.
Hy praat van liefde vir mense wat ons dalk nie kan terugbetaal nie. Hy praat daarvan om goed te doen sonder om erkenning of iets in ruil te verwag.
Dit is ware barmhartigheid.
As ons net goed doen wanneer ons iets daarvoor terugkry, is dit nie altyd liefde nie – dit kan bloot ’n transaksie wees. Barmhartigheid vra nie: “Wat kry ek daarvoor?” nie, maar: “Wat het hierdie persoon nodig?”
Wanneer ons gee sonder om iets terug te verwag, weerspieël ons iets van die hart van God.
God se genade aan ons was immers nie iets wat ons verdien het nie. Ons sal nooit vir God kan terugbetaal vir die groot prys wat Hy deur Jesus Christus aan die kruis vir ons betaal het nie. Sy genade aan ons was oorvloedig. Net so moet ons ook genade aan ons naaste betoon.
Doen hierdie week iets goed vir iemand in die geheim. Moenie vir iemand daarvan vertel nie. Laat God alleen weet.
Here Jesus,
Maak my hart oop vir die mense rondom my.
Help my om nie net hulle nood raak te sien nie, maar ook iets daaraan te doen.
Gee my oë om die een raak te sien wat alleen voel,
ore om te luister na die een wat swaarkry,
hande wat bereid is om te help,
en ’n hart wat bereid is om te gee.
Here, help my om nie te wag vir groot geleenthede om goed te doen nie.
Leer my om die klein dinge met liefde te doen – ’n vriendelike woord, ’n gebed, ’n besoek, ’n helpende hand, of net om vir iemand te wys: “Jy maak saak.”
Gebruik my vandag as ’n draer van U liefde en barmhartigheid.
Mag mense deur my woorde en dade iets van U goedheid ervaar.
Here, maak my bereid om goed te doen, selfs wanneer niemand dit sien nie.
Amen.