
By Stellenberg-gemeente is ons tans besig met ’n reeks oor ons gemeente se visie: Ons streef om met die liefde van Christus, inklusief, uit te reik oor grense heen. Deel van hierdie visie is om uit te reik na Moederaarde en alle vorme van lewe. Hierdie week word ons genooi om in liefde uit te reik na Moederaarde.
Ons begin vandag by die begin, in Genesis 1:28 (AFR83)
28Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.”
Die eerste opdrag in die Bybel, is om tuin te maak. Bewoon die aarde en bewerk dit. Heers daaroor. In die verlede is hierdie versie gebruik om te argumenteer dat plante en diere minderwaardig is as mense in God se skepping en dat God dit vir ons gee om te gebruik soos ons wil. Die Franse filosoof en vader van die Verligting, René Descartes het eens geskryf dat diere niks meer as “outomate” is nie – masjiene sonder gevoel of siel – en daarom bloot daar is vir mense om te gebruik en te verbruik. Vir eeue lank het hierdie tipe gedagtes veroorsaak dat die mensdom die aarde en alles daarop verbruik en misbruik.
Die gedagte in Genesis 1 is egter anders. Wanneer daar van “heers” en “bewerk” gepraat word, is dit nie ’n lisensie tot verbruik nie, maar ’n roeping tot rentmeesterskap. Dit ’n uitnodiging om saam met God, te sorg vir God se skepping. God heers deur liefde, sorg en beskerming; daarom word ons geroep om die aarde te versorg, te bewaar en te laat floreer. Ons is nie verbruikers nie, maar tuiniers van God se skepping.
Neem vandag ’n oomblik om te dink hoe jou verhouding met die Skepping lyk
Here van die skepping, U het ons gemaak na U beeld en ons geroep om te sorg vir die aarde. Vergewe ons waar ons verbruik het in plaas van versorg. Leer ons om as rentmeesters en tuiniers van U skepping te leef, om lewe te koester en met liefde oor Moederaarde en alle vorme van lewe te waak. Amen