Dagstuk | Dinsdag 8 September 2026

Dagstuk | Maandag 7 September 2026
Dagstuk | Woensdag 9 September 2026

Dinsdag 8 September

Hierdie week word ons genooi om in liefde uit te reik na Moederaarde en alle vorme van lewe.

Psalm 24:1

1Van Dawid. ‘n Psalm.

Aan die Here behoort die aarde

en die volheid daarvan,

die wêreld en dié wat daarin woon,

Meeste van ons vat dit as vanselfsprekend dat ons iets kan besit. Dit is myne. Mense is dikwels ook in kompetisie van wie die meeste kan besit, gewoonlik ten koste van ander. As ek iets besit, as dit myne is, kan ek doen daarmee wat ek wil.

Daarom sien ons hoe die aarde verbruik en misbruik word om die korttermyn voordeel van mense te bevoordeel.

Dit maak my diep hartseer wanneer ek sien hoe iemand ’n stukkie grond koop met natuurlike plantegroei om ’n huis daarop te bou en dan al die plante uitruk om uitheemse grasperke en bome aan te plant, eerder as om die natuurlike plantegroei ten minste gedeeltelik te beskerm. Maar omdat jy die grond besit, kan jy doen daarmee wat jy wil. Wat dan nog gepraat van elke groot ontwikkeling wat opduik.

Die perspektief wat Psalm 24 ons gee is anders. Niemand besit eintlik enige iets nie. Die aarde en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon, behoort aan die Here. Dit behoort nie aan mense, nie aan konings of regerings, nie aan maatskappye of individue nie – maar aan God alleen. Dit verskuif ons perspektief: ons is nie eienaars nie, ons is gaste en rentmeesters in God se skepping.

Wanneer ons vergeet dat die aarde God s’n is, begin ons optree asof ons die reg het om te verbruik en te vernietig. As jy iets besit, kan jy mos daarmee doen wat jy wil. Ons bou, breek af, neem, en dink dit is ons reg. Maar die gedagte in Psalm 24 is dat ons leef in ’n huis wat aan God behoort. Ons is genooide gaste, en gaste leef met respek en dankbaarheid.

Om uit te reik na Moederaarde en alle vorme van lewe, begin by die besef dat die hele aarde en alles daarop aan God behoort. Rentmeesterskap beteken dat ons die aarde oppas namens God. Soos ’n tuinier wat ’n tuin versorg wat nie sy eie is nie, dra ons verantwoordelikheid om die skepping te laat floreer. Dit vra van ons om nie net te neem nie, maar ook terug te gee; om nie net te gebruik nie, maar ook te bewaar.

Psalm 24 herinner ons dat elke mens en elke lewende wese deel is van God se wêreld. Dit roep ons om oor grense heen uit te reik – na mense, diere, plante, riviere, berge – en te leef met ’n bewustheid dat ons almal saam behoort aan God.

Dink vandag verder:

  • Hoe sou jou verhouding met die aarde verander as jy dit sien as God se huis waarin jy ’n gas is?
  • Watter verantwoordelikheid dra jy as rentmeester van die skepping in jou daaglikse lewe?
  • Hoe kan jy vandag ’n daad van respek en sorg doen wat erken dat die aarde aan God behoort?

Gebed

Here, die aarde behoort aan U. Leer ons om met respek en dankbaarheid te leef, as gaste wat sorg en nie verbruik nie. Maak ons rentmeesters van U skepping, wat met liefde en verantwoordelikheid leef, sodat die aarde kan floreer en U Naam geëer word. Amen.