Hierdie week word ons genooi om in liefde uit te reik na Moederaarde.
Job 12:7-10
7“Maar gaan vra gerus die diere –
hulle sal jou leer,
en die voëls van die hemel –
hulle sal jou inlig.
8Of gaan kla by die aarde,
wat jou sal leer;
die visse van die see sal jou vertel.
9Wie onder hulle almal weet nie
dat die hand van die Here
dit gedoen het nie?
10 Dit is Hy in wie se hand
die lewe is van alles wat leef,
ook die asem van elke mens
se liggaam.
Job se woorde is ’n uitnodiging om te leer uit die skepping self. Hy sê: vra die diere, praat met die aarde, luister na die visse van die see. Die skepping dra ’n wysheid wat ons dikwels miskyk. Ons dink maklik dat kennis net in boeke of by mense te vind is, maar Job herinner ons dat die aarde en al haar wesens ’n getuienis van God se hand is.
Ek dink een van die redes hoekom mense so maklik leef sonder enige agting vir die skepping, is omdat ons verwyderd van die skepping af leef. Ons leef vêr van die diere en die voëls en die aarde af. Ons praat selfs daarvan dat ons die natuur besoek, asof die natuur vêr van ons af is.
Daar is goeie navorsing wat wys dat die eerste stap om te sorg vir die skepping, is om opgewonde te raak oor die skepping. Om jou oë oop te maak, rondom jou te kyk en te ontdek wat die diere en die voëls en die plante te sê het. Om nuuskierig te wees en te luister na wat die wêreld rondom jou vir jou kan leer.
Iets wat die gedeelte in Job ook duidelik maak, is dat alles in die skepping iets oor God getuig. Elke dier en voël en plant vertel vir ons wie God is op ’n manier wat ons nie op ’n ander manier kan hoor nie. Wat ook beteken, dat wanneer iets op aarde uitsterf, daar ’n getuienis oor God is wat vir ewig verlore gaan.
Mag ons vandag moeite doen om te luister na die skepping rondom ons en weer opgewonde te raak oor die natuur waarvan ons deel is, sodat ons ook beter daarvoor kan sorg.
Dink vandag verder:
Gebed
Skepper-God, leer ons om te luister na die aarde en al haar wesens. Mag ons die wysheid van U skepping raaksien en eerbiedig. Maak ons nederig en dankbaar, sodat ons kan leef as deel van die groot web van lewe wat U in stand hou. Amen.