Dagstuk | Dinsdag 22 September 2026

Dagstuk | Maandag 21 September 2026
Dagstuk | Woensdag 23 September 2026

Vandag is Dinsdag 22 September, en komende Donderdag vier ons Erfenisdag. Daarom reflekteer ons hierdie week saam oor die betekenis van “erfenis” en watter Bybelse waarhede daar vir ons is. Hierdie Bybelse waarhede herinner ons daaraan dat ons as gelowiges ’n ryk erfenis in God het wat ons moet bewaar, koester en deurgee aan die volgende geslag.

Die erfenis van verlossing

In Efesiërs 1:11–12 lees ons dat ons deur Christus deel geword het van die volk van God, soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy dit voorgeneem, Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit. Daarom moet ons, die eerstes wat ons hoop op Christus gestel het, die grootheid van God prys. Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het.

Hier lees ons van die erfenis van verlossing wat ons in Christus ontvang het. Hierdie erfenis sluit die vergifnis van sondes en die versekering van ’n ewige lewe deur ons geloof in Jesus Christus in.

Dietrich Bonhoeffer was ’n Duitse teoloog wat ’n aansienlike impak op die Christelike denke en die geloofslewe gehad het. Alhoewel hy nie spesifiek oor die konsep van erfenis geskryf het nie, kan sy insigte oor geloof, gehoorsaamheid aan God en die verhouding tussen geloof en aksie ons help om oor ons erfenis na te dink.

Bonhoeffer het die konsep van radikale liefde beklemtoon. Hy het geglo dat liefde die kern van die Christelike geloof is en dat dit selfs ons vyande moet insluit. Hierdie insig herinner ons daaraan dat ons erfenis as Christene die roeping tot liefde en vergifnis insluit.

Gebed:
God van versoening, ons bid vir die geskenk van versoening en vrede. Mag ons ’n erfenis van liefde, vergifnis en eenheid agterlaat vir toekomstige geslagte. Amen.