’n Roetemerker vir graad 7’s se geloofsreis

Ontmoet vir Izak Burger, nuwe kerkraadslid
ADHD/AGHS – wat is dit en hoe raak dit my?

 

Deur: Di. Johan Visser en Marius Schoombie

Die lewe is ’n reis saam met God. By Stellenberg-gemeente glo ons dat die Here met ons kinders ’n pad stap van geboorte tot die doop, dan belydenis van geloof en daarna vir die res van hulle lewens. Op hierdie reis is daar belangrike roetemerkers. Die bekende skrywer, Terry Pratchett, som die belangrikheid daarvan uitstekend op:

 “If you do not know where you come from, then you don’t know where you are, and if you don’t know where you are, then you don’t know where you’re going. And if you don’t know where you’re going, you’re probably going wrong.”

Roetemerkers op ons lewenspad help ons om te sien waar ons vandaan kom; waar ons ons tans bevind (oriëntasie); op ons lewenspad help ons om te sien van watter storie ons deel is;  wie saam met ons die pad stap (identifisering) en gee ons geleentheid om iets van ons reis te erken en te bevestig (belydenis). Die Doop en die Geloofsbelydenis van geloof is voorbeelde van twee belangrike roetemerkers op ons geloofsreis.

Daar is egter ook ander belangrike roetemerkers op ons pad. Binne die kerk het ons al hoe meer bewus geword dat die oorgangsfase van ’n kind na ’n tiener sodanige roetemerker is, wat gevier moet word.

Komende Sondag 11 Oktober tydens die eerste gesamentlike oggenddiens van die kwartaal, vier ons hierdie spesiale roetemerkergeleentheid, waartydens die eerste deel van die graad 7-roetemerker plaasvind. By die geleentheid vier die graad 7’s spesifiek hul doop deur ’n klippie uit die doopbak te haal as teken dat hulle verbonde is aan hul doop.  Dit word dan opgevolg by die aanddiens as hulle dieselfde klippie by die kruis gaan plaas as teken dat hulle saam met Christus loop en op Hom vertrou met hul geloofsreis vorentoe. Daarmee begin elke kind en hul ouers se reis as deel van Stellenberg-gemeente se senior kategese.

Ons nooi almal dus uit na hierdie onderskeie eredienste. Dit is kosbaar wanneer almal teenwoordig die geleentheid kry om ’n roetemerker saam te vier.  Dit versterk ons eie geloof en help ons om ons weer  te oriënteer, te identifiseer met ons geloofsoortuiging en weer iets van ons eie geloofsreis te bely.