ADHD/AGHS – wat is dit en hoe raak dit my?

’n Roetemerker vir graad 7’s se geloofsreis

Deur: Alta Stone

Dalk wonder jy ook waarom daar deesdae so baie mense is met ADHD (attention deficit/hyperactivity disorder) of soos in Afrikaans genaamd aandaggebrek-hiperaktiwiteitsteuring (AGHS).  Opmerkings word soms gemaak dat ons almal maar ’n bietjie AGHS het.  Dit gebeur ook dat iemand vir jare goed by die werk funksioneer en dan skielik uitdagings beleef wat aan AGHS gekoppel kan word, of ’n leerder het moontlik goed op skool presteer, maar begin op universiteit sukkel om die volume werk te bemeester en dit kan dan ook soms met AGHS verbind word.

Navorsing wys dat 2%–7% mense wêreldwyd aan die kriteria vir AGHS voldoen.  Dit is dus nie iets wat ons almal maar het en net moet hanteer nie.

Wat is AGHS dan nou eintlik? Daar is baie verskillende teorieë en daar word tans baie navorsing gedoen en inligting word aangevul soos studies aspekte van die versteuring bevestig of weerspreek.

  • Studies het getoon dat daar ’n sterk oorerflikheidsverband is; 70%-80% van gevalle is geneties. Ander faktore wat tot AGHS kan lei, is breinbeserings; risiko’s tydens swangerskap soos alkohol, rook, en omgewingsgifstowwe (bv. sink, lood); vroeë geboorte en lae geboortegewig.

 

  • AGHS kan word in drie kategorieë onderskei: 1- Onoplettend/Afleibaar, 2- Hiperaktief/Impulsief, en 3- Gekombineerde

tipe.  Die graad van simptome kan lig, matig of ernstig wees.

 

  • Ongeveer twee uit drie kinders met AGHS sal ook as volwassenes AGHS verwante uitdagings ervaar. Dit is dus ’n mite dat dit outomaties opklaar na die persoon 18 jaar oud word.

 

  • Die biopsigososiale raamwerk stel ’n holistiese benadering in die behandeling van ’n persoon voor: Behandeling sluit dikwels in senuweesisteemregulering, medikasie, lewensvaardighede, kognitiewe gedragsterapie, en terapie om uitvoerende kognitiewe funksies te verbeter. Navorsing bewys dat die meeste mense baat by geïntegreerde behandeling – die uitdrukking pills and skills word soms gebruik. Medikasie bring vir heelwat mense verligting van simptome, maar dit is nie ’n geneesmiddel nie.

 

  • ’n Onlangse studie het bevind dat daar ’n 123%-toename is in volwassenes wat met AGHS gediagnoseer word. Die volgende faktore speel ’n rol waarom sommige mense eers as volwassenes gediagnoseer word:

(i) die diagnose is in die kinderjare gemis weens beperkte toetsing en/of professionele hulp

(ii) ’n ondersteunende omgewing met ingeboude belonings het gehelp dat die persoon in sy/haar kinderjare goed gefunksioneer het

(iii) navorsing, kennis en inligting is meer beskikbaar en daar is vandag groter bewustheid van AGHS in die samelewing vandag

(iv) veranderende lewensomstandighede met minder ondersteuning en meer kognitiewe vereistes kan AGHS-simptome aan die lig bring

(v) familielede wat gediagnoseer word kan ook ander volwassenes se simptome uitwys

 

  • Neurobiologiese verskille van die AGHS-brein sluit in: breingrootte, verminderde konneksies in veral die frontale lobbe, en verskillende regulering van neurotransmitters. Daar is heelwat navorsing wat die dopamien-hipotese ondersteun. Dit verduidelik dat die AGHS-brein se basisvlak dopamien verlaag is en daarom is meer stimulasie nodig om die dopamien tussen neurone te laat vloei. Stimulantmedikasie verhoog die opwekkingsvlak van die brein wat die behoefte aan konstante stimulasie uit die omgewing verminder.

 

  • AGHS is ’n neuro-ontwikkelingstoestand wat funksies beïnvloed soos: aandag, breinenergie- regulering en opwekkingsvlak, uitvoerende kognitiewe funksies, beloningsisteem, motivering, impulskontrole en tydsbestuur.

 

  • In die mediese model word daar soms na AGHS verwys as ’n uitvoerendefunksie-steuring. Die prefrontale korteks reguleer ons hoërorde-kognitiewe funksies; amper soos ’n dirigent wat ’n simfonieorkes mooi moet laat saamwerk om wonderlike musiek te skep. Uitvoerende funksies sluit in: organisering, beplanning, prioritisering, inhibering van afleiding, oordeel, aanpasbaarheid, tydsbestuur, besluitname, werkende geheue, taakinisiasie, aandagregulering, emosionele regulering.

 

Ter afsluiting: dit beteken nie dat die AGHS-brein se intellektuele vermoëns beperk is nie, maar verduidelik dat daar ’n ander styl van prosessering is. Dit mag soms moeilik wees om aan die vereistes te voldoen wat die samelewing stel aangesien dit wat die meerderheid doen, gewoonlik as die norm gesien word. Daarom is dit nodig vir die persoon met AGHS om soms nuwe metodes en vaardighede aan te leer, ander keuses te maak t.o.v take en aanpassings in die omgewing te maak om optimale funksionering te bevorder. Daar is baie suksesvolle persone wat uitgesproke is oor hul AGHS en hoe hul sterkpunte bydra tot hul prestasie soos Trevor Noah (komediant), Michael Phelps (olimpiese swemmer), Emma Watson (aktrise).  Die volgende aanhaling van sir Richard Branson is inspirerend: The billionaire entrepreneur often credits his lateral thinking and hyper-focus to his neurodivergent mind.

Navorsers vergelyk soms die brein se uniekheid met jou vingerafdruk. Neurodiversiteit beteken dat ons verskillende style en maniere van dink en doen het. So, ken en verstaan jou vingerafdruk, maak jou spesiale “merk” in die lewe, en floreer.

Stuur jou terugvoer, opmerkings en/of voorstelle na therapy@stellenberg.co.za.  Ons hoor graag wat jy dink!

| Alta Stone is ’n arbeidsterapeut en sentrumbestuurder van die Stellenberg Terapiesentrum.  Kontak haar gerus  direk indien jy ’n konsultasie wil skeduleer.

E-pos: reception@altastonetherapy.co.za WhatsApp: 072 484 1348

 

Verwysings:

Neurobiology of ADHD: Tripp & Wickens, Neuropharmacology, 2009; 57(7-8); 579-589 Trends in the Prevalence and Incidence of ADHD: Chung et al., JAMA Network Open 2019 Nov 1;2(11):e1914344. doi: 10.1001/jamanetworkopen.2019.14344.