Maandag 10 Junie 2024

Saterdag 8 Junie 2024
Dinsdag 11 Junie 2024

Vandag is Maandag 10 Junie en welkom by hierdie week se reis waar ons saam reflekteer oor wat dit beteken om vanuit Pinkstertyd te leef. Dit is nou al drie weke na die Pinksterfees geleentheid, maar tog leef ons vanuit daardie krag elke dag om ook op praktiese maniere hande en voete te wees binne die nuwe kerklike seisoen wat ons noem koninkrykstyd. Die uitnodiging aan ons bly dus nogsteeds om vanuit die krag van die Gees te leef.

Daar is min mense wat só ‘n groot verskil gemaak het, soos Paulus.  Jy kan ‘n toegewyde gelowige wees – soos Saulus inderdaad was. Hy wou juis die geloof waarvan Jesus deel was beskerm.  Jy kan selfs fanaties in jou toewyding wees – soos Saulus was. Saulus het soos ‘n besetene voortgegaan om die volgelinge van die Here met die dood te dreig. Maar, toe hy die opgestane Jesus op Damaskuspad ontmoet, het alles verander.  Saulus ontdek dat hy nie die Jesusvolgelinge vervolg nie, maar die lewende Jesus sélf.

Daardie ontmoeting het sy hele lewe verander.

Vanuit daardie ontmoeting skryf Paulus vir die gemeente in Korinte in 1 Kor 15:17: “As Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos…”.   Vir hom staan die kruis tussen sy “Saulus-dae” en sy “Paulus-lewe”.  Dis die kruis tussen sy ou self en sy nuwe self.  Dit is die kruis wat ook tussen ons ou self en ons nuwe self staan.  Maar, as alles net by die dood van die kruisiging gestop het, hoe kon daar nuwe lewe moontlik wees?  Of vir jou en my?  Máár, dit is danksy die opstanding dat Paulus dan verder gaan in Gal 2:19 deur te sê  “en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe”.

Jesus leef, en Jesus se Gees leef in ons.

Hoe leef mens dus nou deur die krag van die Gees in hierdie seisoen wat ons noem koninkrykstyd? Soos Jesus, as Hy in Joh 6:38 sê dat Hy nie van die hemel af gekom het om Sy wil te doen nie, maar die wil van Hom (die Vader) wat Hom gestuur het. (Joh 6:38). Die uitnodiging dus is om eerstens te soek na die wil van die Here en na Sy koninkryk.

GEBED:  Here, dankie vir u Gees en die nuwe lewe! Mag ons geesvervuld U wil doen. Amen.