Dagstuk | Woensdag 28 Oktober 2026

Dagstuk | Dinsdag 27 Oktober 2026
Dagstuk | Donderdag 29 Oktober 2026

Tema: Wanneer my gedagtes my bang maak – Ek hoef nie deur vrees beheer te word nie

Bybelteks: Jesaja 41:10

Moenie bang wees nie, Ek is by jou,
moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God.
Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas,
met my eie hand red Ek jou.

Boodskap

Ons gedagtes kan soms ’n probleem groter maak as wat dit werklik is. Ons dink aan “wat as …?” en beleef reeds môre se probleme vandag.

Die lewe is vol onsekerhede. As ons dit toelaat, is daar baie dinge waaroor ons ons kan bekommer – ons werk, gesin, finansies, huwelik, gesondheid, ensovoorts. Baie van ons leef met angs; dit loop gedurig saam met ons. Hierdie angs steel ons vrede en tevredenheid. As ons nie leer om dit te hanteer nie, kan Satan ’n vastrapplek in ons lewens kry. Hy sal nog meer angstige gedagtes in ons denke plant. Ons beland dan in ’n eindelose siklus van bekommernis. Dit kan later ons gesondheid nadelig beïnvloed.

Dit is nie wat God vir sy kinders wil hê nie. Hy wil hê dat ons in vrede en tevredenheid moet leef. God herinner ons: Jy is nie alleen nie. My gedagtes fokus dikwels op wat kan gebeur; geloof fokus op Wie saam met my is.

Watter twyfel, bekommernis of vrees moet jy vandag met God deel? Ek moedig jou aan om al jou vrese, bekommernisse en twyfel – elke situasie wat jou hart of gees gebreek het – vandag voor God se voete neer te lê.

Gee vandag ALLES aan Hom oor! Lees vandag se teks weer hardop vir jouself. Dalk selfs nog ’n keer, sodat die woorde diep in jou gedagtes kan insink.

Gebed

Here, soms hardloop my gedagtes vooruit en maak ek myself bang oor dinge wat nog nie gebeur het nie. Wanneer vrees my oorweldig, herinner my daaraan dat U by my is. Help my om dit wat ek nie kan beheer nie, in U hande te plaas. Gee my die moed om vandag te leef en U vir môre te vertrou. Amen.